Twee jong pa’s sterf in afsonderlike ongelukke
VANDERBIJLPARK - Twee jong pa’s van die Vaaldriehoek het die naweek in afsonderlike padongelukke gesterf. Morné Bronkhorst (35), is dood toe hy beheer oor sy Toyota-bakkie verloor en die voertuig gerol het.

VANDERBIJLPARK – Twee jong pa’s van die Vaaldriehoek het die naweek in afsonderlike padongelukke gesterf.
Morné Bronkhorst (35), is dood toe hy beheer oor sy Toyota-bakkie verloor en die voertuig gerol het.
Dit het Vrydagaand, 1 Julie omstreeks 22:15 op die Stokkiesdraaipad (Ravelstraat), op die draai net na die bruggie wat oor die spruit loop, gebeur. Mornè was op pad na sy huis by Vaal Eden in die Parys-distrik.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Morné se Toyota was die enigste voertuig wat in die ongeluk betrokke was.
Van sy familielede was kort na die ongeluk op die toneel. Sy vrou Chantell Bronkhorst (34), Melissa Niemand, Morné se suster en haar man Michael, sy broer Jaco en vrou Elaine en Morné se ma Elsa Stry-dom, was baie geskok. Volgens Jaco is Morné op slag dood.
“Morné was ‘n kuierman en was altyd verspot en het mense laat lag. Hy het voluit geleef,” sê Jaco.
Morné was die eienaar van M.B. Electrical in Vereeniging. Melissa Niemand, Morné se suster, het op Facebook geskryf: “Ek belowe op my woord ek en Michael sal mooi kyk na Chantell, Jeandré en Kiara. Ons gaan jou trots maak soos wat ek altyd trots was om jou as my boetie te hê.”
Morné se verassingsdiens vind Saterdag, 9 Julie om 10:00 vanuit die Ou Apostoliese kerk in Vanderbijlpark plaas. Hy laat sy vrou Chantell, seun Jeandré (7) en dogtertjie Kiara (3) agter.
* In die tweede noodlottige ongeluk is Bennie Willemse (41) dood toe hy op die Louisrus-pad ook beheer oor sy bakkie verloor het. Volgens Pieter Rossouw, ER24 se mediaverteenwoordiger, het die ongeluk op 2 Julie in die vroeë oggendure gebeur. Bennie was op pad werk toe, toe ongeluk gebeur het. ER24 het egter eers die oggend om 07:00 die oproep ontvang van die ongeluk, aangesien die voertuig ‘n hele ent in die veld gelê het en eers na daglig opgemerk is. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Bennie se begrafnis vind Maandag, 11 Julie om 14:00 vanuit die AGS kerk Dinamika in President Steynstraat, Vanderbijlpark, plaas. Bennie laat sy vrou Sharon, seun Darren (14) en dogter Shanté (9) agter.



