
Twee inbrake is Donderdag en Vrydag by die Uitkoms woonstelle in Kockstraat aangemeld, waartydens ‘n 88-jarige vrou in haar woonstel aangerand en byna verkrag is.
Die vrou het Vrydag omstreeks 15:00 haar wasgoed na die stoep geneem. Sy het omgedraai, waarna sy in ‘n groot man vasgekyk het.
Hy het skottelgoedseep en ‘n skroplap in sy een hand gehad en in sy ander hand ‘n langwerpige grys voorwerp. Toe sy hom vra wat hy in haar woonstel soek, het hy geantwoord dat hy werk soek.
“Ek het hom probeer uitjaag, maar toe begin hy aan my stamp. Hy het my met die vuis op my linkerarm geslaan,” vertel sy.
Hy het haar al nader aan die bed begin stoot, waarna hy haar deur die gesig geklap het. Sy het op die grond geval.
“My heup en my knieg is verskriklik seer,” vertel sy.
Daarna het hy haar betas, haar selfoon gegryp en gevlug.
Sy het na die aanval vir sowat ‘n halfuur op die vloer gelê en om hulp geroep, maar nie een van haar bure was tuis nie.
“’n Mens voel so verneder en vuil na so ‘n ondervinding,” sê sy.
Volgens haar het haar skoondogter Vrydagmiddag net na 16:00 die polisie gekontak, maar hulle het eers Sondagoggend opgedaag.
Sy onthou dat haar aanvaller ‘n blou oorpak aangehad het met verfmerke by die knieë.
“Ek dink hy moes my dopgehou het, want hy het gewag tot ek alleen was,” sê sy. ‘n Ander inwoner, Dalene Lubbe, het die vorige dag ook onder ‘n inbreker deurgeloop. “Hy het by die agterdeur ingekom en met ‘n mes in sy hand vir my gesê dat as ek skree, gaan hy my keel afsny.” Hy het toe kos uit haar yskas gesteel, haar handsak op die bed uitgegooi en haar selfoon gesteel.
“Ek huil nou nog, ek kan nie oor die skok kom nie. Ons is oumense, ons kan onsself nie verdedig nie. Ons het nie ‘n kans teen een of twee van hulle nie,” sê sy. Die aanvaller het ook nie enige moeilikheid gehad om die kompleks te betree nie, aangesien die toegangshek in Klipstraat al vir maande lank buite werking is, en maklik oopgestoot kon word.
E-posse is reeds vanaf Mei 2015 tot Mei vanjaar aan Ben Robbertse van die Tlokwe Munisipaliteit gestuur oor die hek wat stukkend is, maar dit is Dinsdag eers reggemaak.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, was die hek stukkend weens inwoners wat onwettige kopieë van afstandbeheerders gemaak het, en dit die hek se geheue beïnvloed het.
Hy sê die hek is nou eers reggemaak omdat die finansies daarvoor eers onlangs deur die Stadsraad goedgekeur is.
Verder sê hy die veiligheid van die inwoners is vir die munisipaliteit ‘n hoë prioriteit, maar dit kan net verseker word as die inwoners hul samewerking gee en hou by die reëls en regulasies van die kompleks.



