
Die aantal seksuele misdrywe wat in Potchefstroom plaasvind is skokkend. Elke week word daar berig oor nog ’n voorval van verkragting of seksuele aanranding.
Die Gesinsgeweld-, Kinderbeskerming- en Seksuele Misdryf-eenheid (GKS) van die Potchefstroom kluster wat Potchefstroom, Ikageng, Ventersdorp, Klerkskraal en Buffelshoek bedien, het in Junie altesaam 74 jaar tronkstraf verseker vir beskuldigdes van verskeie seksuele misdrywe.
Die helfte van die sake se slagoffers was minderjarige kinders.
Die jongste slagoffer was ’n 9-jarige seun wat deur ’n 29-jarige man op 19 Oktober 2015 verkrag is. Die man, John Ofentse Pooe, is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Pooe het agter die seun aangeloop waar hy besig was om saam met twee van sy vriende te speel. Die kind se vriende het weggehardloop toe hulle vir Pooe sien. Pooe was bekend aan die slagoffer, daarom het hy nie weggehardloop nie. Pooe het glo aan die slagoffer gesê om saam met hom huis toe te kom, waarna hy hom in sy huis inforseer het. Die seun het probeer wegkom, maar Pooe het hom gegryp, op ’n matras neergegooi en verkrag, terwyl hy sy mond toegedruk het. Pooe is skuldig bevind en op 23 Junie tot 20 jaar gevonnis.
’n 15-jarige dogter is in haar huis seksueel aangerand nadat ’n man wat by die familie woon, die betrokke nag omstreeks 01:00 by haar kamer ingekom het om haar te betas. Tydens die voorval wat op 8 April vanjaar plaasgevind het, het die beskuldigde, Michael Jonathan Davids (34) sy jong slagoffer betas.
Hy het haar ook forseer om aan hom te vat. Na die voorval het die meisie haar ma geskakel, wat die polisie in kennis gestel het. Davids het skuldig gepleit op ‘n klag van seksuele aanranding, waarna hy tot drie jaar tronkstraf gevonnis is wat opgeskort is vir vyf jaar.
’n Man is ook tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ’n 10-jarige meisie in Ventersdorp verkrag het. Die kind se ma het haar glo winkel toe gestuur waar Ditabane Orapeleng Bafana (19), haar vasgekeer het. Bafana het die meisie met ’n mes gedreig, waarna hy haar in die bosse verkrag het. ’n 15-jarige seun is skuldig bevind aan verkragting van ’n 12- jarige meisie. Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Alle ondersoeke is deur die 14 lede van die GKS-eenheid gedoen.



