Midvaal in chaos gedompel
MEYERTON. - Midvaal het oornag in 'n spookdorp verander nadat lede van SAMWU (South African Municipal Workers Union) die strate ingevaar het.
MEYERTON. – Midvaal het oornag in ‘n spookdorp verander nadat lede van SAMWU (South African Municipal Workers Union) die strate ingevaar het. Die meeste besighede in Lochstraat en omliggende strate het hul deure vir die res van die dag gesluit. Die munisipale kantoor het ook vroeg vanoggend ontruim.
Die groep betogers het begin voor die munisipale gebou waar hulle die hek oopgeruk, vullis oor die paaie gestrooi en bande gebrand het. Daarna het hulle verder enige rommel wat hulle kon kry, uit die sakke gegooi asook munisipale eiendom, onder meer stopstrate, straatnaambordjies en een van die verkeersirkels in Lochstraat gevandaliseer.
Die voorsitter van SAMWU in Midvaal, mnr. Lucky Nhlapo het aan die groep gesê dat hulle nie die winkels of voertuie moet beskadig nie, maar hulle gaan nie ophou voor hulle nie deur afgevaardigdes van die Midvaal Munisipaliteit toegespreek is nie. Hy het aan Vaalweekblad gesê dat hulle nog geen terugvoerig gekry het nadat hul ‘n week gelede ‘n memorandum oorhandig het nie.
Hulle is onder meer ongelukkig oor hoe die munisipale bestuurder, mnr. Albert de Klerk die munisipaliteit bestuur, asook sommige werknemers wat voorkeur geniet het deur posvlakverhogings. Hulle voel sommige word voorgetrek deur mnr. De Klerk en hy moet onmiddellik geskors word.
Volgens Midvaal Munisipaliteit is die staking onwettig en stappe sal teen enige onwettige aktiwiteite en betogers geneem word.
Die polisie is tans op die toneel.









