MEYERTON. – Betogers van Sicelo, die informele nedersetting in Midvaal is steeds besig om te betoog en die R59 rondom Midvaal is gesluit.
Betogers bestook voertuie, die polisie asook joernaliste met klippe. Verkeer word vanaf Johannesburg na Vereeniging oor die Meyerweg-afrit herlei, terwyl verkeer vanaf Vereeniging in die rigting van Johannesburg oor die Johan le Rouxweg-afrit herlei word.
Motoriste word aangeraai om eerder die N1-hoofweg of die R551- en R557-pad as alternatiewe roetes te gebruik.
Die groep betogers probeer egter baie hard om die dop binne te kom om DA-burgemeester Bongani Baloyi te soek na hul krag en water glo afgesny is. Hulle eis dat die toevoer herstel word.
Baloyi sê in ’n verklaring die betoging is deur lede van die munisipale vakbond Samwu in samewerking met die ANC gereël om die DA-beheerde plaaslike owerheid voor die verkiesing op 3 Augustus te destabiliseer.
Hy sê Samwu-lede met toegang tot die water- en kragtoevoer na Sicelo het die dienste gesaboteer.
Baloyi vra inwoners om kalm te bly, maar waarsku die volgende paar dae tot en met die verkiesing gaan waarskynlik nóg betogings oplewer.






