NewsNews

Bekende in Midvaal skaar hom by VF Plus

Die menings uitgespreek in die advertensieveldtog is dié van die politieke party en nie noodwendig van MooiVaal Media nie.

Ockert Brits, bekende sakeman van Midvaal het hom beskikbaar gestel as kandidaat vir die VF Plus in die komende plaaslike regering verkiesing. Ockert woon reeds byna 28 jaar in Riversdale (Wyk 13).

 

As sakeman en besorgde inwoner is Ockert reeds vir baie jare aktief betrokke by die gemeenskap en is hy onder andere die voorsitter van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat spog met meer as 400 ingeskrewe lede en meer as 30 aktiewe straatpatroleerders. Ockert benadruk dat sy politieke affiliasie heeltemal onafhanklik staan van sy GPF betrokkenheid, juis omdat die samestelling van die GPF uit lede van verskillende politieke partye bestaan.

 

Na vele jare se eindelose- en leë beloftes van die DA raadslid vir wyk 13 (wat nie self in Riversdale woon nie) asook die Midvaal Plaaslike Munisispaliteit, het Ockert besluit dit het tyd geword om self in te gryp en Riversdale se probleme aan te spreek en op te los. Hy het besef dat al hoe hy dit sal kan bewerkstellig is om self as die wykraadslid te dien – met direkte inspraak en verantwoordelikheid sal Midvaal hom en Riversdale nie langer kan ignoreer nie. Riversdale se probleme is histories en is nog nooit daadwerklik deur die DA-beheerde munisipaliteit of onderskeie raadslede aangespreek nie.

 

Toe ‘n munisipale bywet uitgevaardig is dat plaasdiere nie meer in Riversdale aangehou mag word nie, was inwoners genoodsaak om al hul diere te verkoop. Die onderneming van Midvaal dat hul voortaan verantwoordelikheid vir die baie oop stukke veld sou aanvaar, het niks van gekom nie. Die gras het Riversdale letterlik begin toegroei en sodoende ‘n paradys geskep vir kriminele elemente. So is daar byvoorbeeld in Ockert se straat ‘n inwoner in haar huis doodgeskiet. Bewyse is gevind dat die moordenaars slegs ‘n paar meter van haar huis af in die lang gras gelê en die huis dopgehou het. Nodeloos om te sê, sny inwoners tans self en op eie koste die lang gras sonder enige hulp of vergoeding van Midvaal.

 

Een van die grootste knelpunte is Riversdale se hoofweg, Jan Neethlingstraat. Wanneer dit reën is hierdie straat letterlik ‘n rivier en onbegaanbaar. Die enigste terugvoer wat Midvaal hieroor gee is dat die pad so gebou is en klaar, dit kan nie nou verander word nie.

 

Riversdale is tans ‘n ontwikkelingsfokuspunt met veral baie nuwe meenthuiskomplekse en ander ontwikkelings. Die rioleringstelsel vir die hele gebied is heeltemal ontoereikend en onvoldoende en veroorsaak ernstige probleme. Dit hou ook ‘n groot gesondheidsgevaar vir inwoners in. Wanneer dit reën spoel riool terug in huishoudelike toilette en stroom die riool in Jan Neethlingstraat af.

 

Die elektrisiteit-infrastruktuur is ook verouderd en nie aangepas en gemoderniseer om tred te hou met die ongekende vooruitgang en ontwikkeling wat in Riversdale plaasvind nie. As ‘n direkte gevolg hiervan is kragonderbrekings aan die orde van die dag en ly inwoners groot skade aan die verlies van elektriese toerusting en toebehore – waarvoor hulle uiteraard nie deur Midvaal vergoed word nie.

 

Ockert onderneem plegtig aan Riversdale se kieserskorps om hierdie probleme daadwerklik aan te spreek en met Midvaal saam te werk in die soeke na oplossings. Hy onderneem ook om te verseker dat veral die aanstelling van munisipale amptenare op meriete moet geskied ten einde effektiewe dienslewering te verseker. Hy is daarvan oortuig dat ‘n wykraadslid permanent in sy wyk moet woon, sodoende is hy deurgaans bewus van alle probleme in sy area en is hy te alle tye beskikbaar vir inwoners.

 

Ockert bedank Riversdale en sy inwoners byvoorbaat vir die fenomenale ondersteuning, hy beloof om sy beste vir die gemeenskap te gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button