Fondse vir pad steeds vir Willem ‘n teer sakie
SASOLBURG. – Hoewel hulle sê dat geld nie alles kan koop nie, is dit tog die ding waarna meeste mense smag. Kom ons wees eerlik, wie sal nie kan doen met so ‘n paar ekstra randjies elke maand nie? Wel, daar is ‘n parkeerterrein bestuurder in Sasolburg wat die gemak van sy kliënte bo ‘n ekstra geldjie in die sak verkies. Willem Herbst is sedert die laat negentigs reeds ‘n karwag by die parkeerterrein voor Mardo Foto’s en het reeds ‘n bekende in Sasolburg geword.

Die ding waarvoor hy seker die meeste bekend is, benewens sy sterk geloof in God, is die geld wat hy al vir baie lank insamel om die gate in ‘sy’ parkeerterrein te herstel. Willem het tot dusver al meer as R35 000 op onder meer teer en gereedskap spandeer en dit in ‘sy’ parkeerterrein teruggewerk. Nie ‘n enkele sent van daardie geld het hy vir homself gebruik nie, nie eers vir iets soos ‘n nuwe broek of warm trui teen die winter se koue nie. Alles word net so teruggeploeg in die pad. Die beste van alles is dat niemand hom gevra het om dit te doen nie. Hy het uit sy eie begin om sy kliënte se ervaring in die gebied beter te maak as in enige ander gebied in die dorp. Hierdie is ‘n man wat van vroegoggend tot laatmiddag hier staan en karre oppas en daarna na ‘n plaaslike watergat gaan waar hy dan tot laat saans ook staan en karre oppas. Selfs Sondae rus hy nie en pas hy karre by ‘n kerk op. Hy werk letterlik sewe dae per week en steeds spandeer hy meer as R35 000 op ‘n stuk teer sonder om twee keer daaroor te dink. Wie sal nie eerder daardie geld op hulself spandeer nie, veral as jy sien hoe min mense werklik dankbaar is vir dit wat Willem doen. Nie net koop hy alles aan nie, hy maak self ook elke slaggat reg.
Dit neem baie van sy tyd in beslag, wat hy eerder kon gebruik het om vir homself ‘n beter toekoms te verseker. So, as jy dalk ‘n skenking vir die pad wil maak, of selfs net hierdie onselfsugtige man se hand wil gaan skud, jy sal hom op sy pos kry in ‘sy’ parkeerterrein.