In September 2015 het my verhaal in Vaalweekblad verskyn. ‘n Kort storie oor terugslag en triomf, van genade, van positief wees, en van positief BLY.
Dit is tien maande later en ek het dit nodig geag om weer die pen op te neem. Sonder voorbedagte rade, en veral nie met ‘n verskuilde agenda nie. Ek voel geroepe om ‘n boodskap van hoop te bring, van geloof en van deursettingsvermoë.
Sestien lange maande het verloop sedert ek die eerste flikkergram ondergaan het, van Maart 2015 tot Junie 2016. Vir kanker is dit lank genoeg om fees te vier in die menslike liggaam. Dieselfde pad elke maand, Johannesburg toe en terug, dieselfde gesprek elke maand, dieselfde skedule medikasie elke maand, dieselfde beloftes elke maand. Ek het geweet dit is nie hoe dit hoort nie, ek het geweet dit is nie die standaard mediese protokol wat gevolg moet word nie. Maar dit is moeilik as mens uitgelewer is aan die Departement van Gesondheid se genade. Teenstand en bevraagtekening skuif jou net terug tot heelonder aan die lys. Toe daar helaas na 16 maande besef word ek is by die “verkeerde” Onkologie kliniek het dinge uiteindelik begin gebeur. Ongelooflik maar waar, met terminale renale en urologiese karsinoom lanterfanter hulle al vir 16 maande met my by die kliniek vir prostaatkanker – en al my pleidooie word deurgaans geignoreer. Ek moes dringend ‘n opvolg flikkergram ondergaan om te bepaal of die kanker dalk versprei het.
Nodeloos om te sê was ek bekommerd, want my liggaam het vir my sy eie verhaal vertel – sonder mediese toetse. Die nuus was erger as wat ek verwag het, verpletterend. Vir eens was ek bang, vreesbevange. Ek dink nie ek het ooit in my dag des lewens so alleen gevoel nie. Tog het ek vinnig besef dit is nog lank nie die einde van die pad vir my nie. Nee, ek het dit nie besef nie, ek het dit besluit. Ek het my Skepper opnuut gevra om my hand styf vas te hou en elke tree van hierdie skrikwekkende pad saam met my te stap. My gebed is daar en dan beantwoord, ek het ‘n ongekende vrede ervaar, ‘n vrede wat steeds die wind onder my vleuels is, elke dag. Ek is dankbaar, positief, en ek sien kans vir wat ookal voorlê.
Dit gaan aansienlik moeiliker met my as tien maande gelede. Ek kan slegs kort entjies met die kieries stap – die kanker het my werwelkolom erg beskadig. Stap het ‘n pynlike foltering geword. Die Onkoloog beveel aan dat ek voortaan ‘n rolstoel moet gebruik en die staat voorsien my gevolglik van ‘n rolstoel. Alhoewel ek hard probeer en “oefen” kom ek nie reg met die rolstoel nie. Ek kan nie self die wiele rol om te kan beweeg nie, dit is eenvoudig net te pynlik, en ek is swaar, ‘n groot man. Die staat voorsien of help nie kankerpasiënte met elektriese rolstoele of Shopriders nie – slegs kwadrupleë. Ek besluit self om eenvoudig aan te hou stap met die kieries, handdoek ingooi is nie eens ‘n opsie nie. Ek is oortuig dat daar uitkoms sal kom, dat ek die nodige noodsaaklikhede om so normaal moontlik met my lewe te kan aangaan op een of ander wyse sal kry. Dit sal beslis nie maklik wees nie maar ek sal daar kom.
Ek volhard in geloof. Met my Skepper se genade en ondersteuning raak ek vrywillig betrokke by 50 Shades of Spay, ‘n liefdadigheidsorganisasie vir diere. Hul primêre doelwit is om mense wie finansieel nie daartoe in staat is nie te help om hul troeteldiere gratis te laat steriliseer. My betrokkenheid hierby is vervullend maar dis lank nie genoeg nie. Ek wil meer en nouer betrokke wees by die gemeenskap, ek wil konstruktief bydra, op enige wyse.
Opeens word my gebede beantwoord. Ek word teen alle verwagtinge in aanvaar as ‘n kandidaat vir ‘n politieke party in die komende plaaslike regering verkiesing, die Vryheidsfront Plus. My vrese dat kanker my van alles sal uitsluit word besweer, my gesondheid verhoed my nie om formeel by die gemeenskap betrokke te raak nie. ‘n Uiters vervullende betrokkenheid. Dit is waaroor ek gedroom en waarvoor ek gebid het: om ‘n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak. Ek sou graag die wêreld wou red as ek kon, maar die wete dat ek ‘n positiewe verskil aan mense se lewens maak laat my reeds snags lekkerder slaap en is vir my ‘n fantastiese begin. Ek is dankbaar. Van ‘n probleem met ‘n waterlek, ‘n straatlig wat nie werk nie, ‘n foutiewe diensterekening, slaggate en soveel meer – skielik dien ek weer ‘n doel, ek voel nie meer so nutteloos nie, ek sit nie meer so ledig rond nie. Ek is dankbaar teenoor my Skepper, en ek is dankbaar teenoor my party. Die ondersteuning wat ek geniet is onbeskryflik fenomenaal.
Daar lê nog ‘n lang pad voor. Daar sal altyd probleme wees wat oorkom moet word. Tog sien ek kans vir wat ookal op die horison wag. Ek is positief, ek BLY positief, gemotiveer, entoesiasties en bowenal objektief. Ek kon kies om myself te bejammer en handdoek in te gooi, maar ek het verkies om te leef, te lewe, om ‘n boodskap van hoop uit te dra, om my medemens aan te spoor om nooit op te gee nie, ongeag. Daar is ALTYD ‘n rede om voor te leef. Vir my is kanker nie meer ‘n doodsvonnis nie, inteendeel het hierdie gevreesde siekte my gehelp om my sterkste eienskappe, my begerigheid om te dien te help ontsluit.
Ek leef allermins in ‘n gekkeparadys. Die daaglikse pyn is meesal ondraaglik, stap is moeilik en pynlik, en ja, ek raak steeds soms moedeloos. Maar wanneer ek my seëninge tel is ek opnuut dankbaar en word ek opnuut gemotiveer.
Ek glo en vertrou ek sal oor ‘n klompie maande nog ‘n terugvoer artikel kan plaas waarin ek sonder twyfel sal vertel hoe goed dit gaan en hoe baie ek al vir my kiesers vermag het. Dalk sal dit sonder hare vanuit ‘n rolstoel wees, dalk met hare en met kieries, maak nie regtig saak nie, maar ek SAL hier wees om nog meer van my storie te vertel.
Groete,
Charl.



