
Al ooit die volgende scenario ervaar? Jy het ‘n besige voorlegging of vergadering of eksamen die volgende dag en om een of ander rede bly die slaap wyk, jy rol rond en kyk nou al vir ure elke uur op die horlosie en hoe meer jy jouself probeer dwing om te slaap, hoe minder wil jou brein saamwerk en jou laat slaap. Ek het ook so paar weke gelede so scenario beleef en soos baie van jul daarbuite het ek talle newe effekte ervaar weens te min slaap.

Nie net is slaap baie belangrik vir breinfunksionering nie, maar dit speel ‘n belangrike rol in ons daaglikse lewe en skoonheid. Ja, julle lees reg, skoonheid… Te min slaap het al bewys dat jy makliker gewig optel, want jou liggaam voel moeg en outomaties se jou brein: as jy eet gaan jy meer energie he. As ons ook ‘n nag van min slaap oorleef het, is ons so uitgeput die volgende dat ons nie die dag kan aanpak sonder ‘n energiedrankie of twee nie, wat buiten al die kaffein ook tonne suiker bevat en so die syfers op die skaal ongemerk laat meer word.
Plooie: ja, daardie gevreesde woord vir menige van ons dames. Na ‘n nag van min slaap, voel jy uitgewas, vaal en verlep en dan kruip al daardie plooie ook sommer uit hul wegkruipplekke… nagmerrie! Om nie van die donker kringe en sakke onder die oe te praat nie!
Hier is ‘n paar voordele van slaap:
- Verbeter jou geheue
Al voel dit nie so nie, is ons brein baie besig terwy l ons slaap. Al die inligting wat ons deur die dag ingeneem het en emosies wat ons ervaar het, word geprosesseer en na die regte stasies gestuur. Dink maar aan die film “Inside Out” as ‘n goeie voorbeeld. Die brein het ook die rus nodig om te “reboot” en homself voor te berei vir nuwe inligting wat die volgende dag aan hom gegee word.
- Bekamp inflammasie:
Inflammasie dra by tot hartsiektes, beroerte, diabetes tipe 2, artritis, en vroee veroudering. Daar is so baie boererate en pille wat daagliks gedrink en gevolg word en hier reg voor ons oe is die baie eenvoudige antwoord: as jy inflammasie wil beveg en bekamp, kry meer slaap.
- Laat die kreatiwiteit blom:
As jy skeppend wil wees, maak nie saak op watter manier nie, miskien is dit skilder, dans, lesse voorberei, gedigte en selfs blogs skryf, is slaap die antwoord. Slaap help om al die emosionele komponente van ons geheue te verbeter en op daardie manier verbeter ons kreatiwiteit ook.
- Wees ‘n wenner:
As jy ‘n goeie atleet wil wees, of dit nou hardloop of velditem is, is daar een manier om die wenner in jou wakker te maak… slaap meer en slaap goed.
Studies bewys dat atlete wat vir ten minste 10 ure slaap elke nag vir omgeveer 7 tot 8 weke voor ‘n groot byeenkoms, hul tye verbeter en ook minder daaglikse uitputting ervaar en meer stamina toon.
- Voorkom depressie:
Tekort aan ‘n goeie nagrus kan bydra tot depressie. ‘n Goeie nag se slaap kan help dat ‘n buierige persoon hul angstigheid verminder en so meer emosioneel stabiel die dag aanpak. As jy dink al die lang ure en harde werk bydra tot jou gevoel van depressie, plaas dan sommer ‘n tekort aan voldoende slaap ook op jou lysie.
Nadele van te min slaap:
Net soos wat daar voordele is, moet daar ongelukkig ook nadele wees van te min slaap. Hier is ‘n paar:
- Veroorsaak meer ongelukke weens tekort aan konsentrasie.
- Tekort aan slaap laat jou “dom” voel.
- Dit kan lei tot vele siektetoestande bv: Hartaanval, Hoe bloeddruk, Beroerte en Diabetes tipe 2
- Verouder die vel: durf ek weer die woord plooie noem dames?
- Laat jou makliker en vinniger gewig optel.
- Kan bydra tot die verhoging van vroee sterftes
So daar het julle dit dames: As jy langer wil leef, makliker gewig verloor en dit afhou, gesonder en meer “alert” wil wees, gaan kry maar daardie warm glas melk, skakel die tv, selfoon, tablet en rekenaar af en gaan klim in die bed en slaap snoesig en lank.
LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER



