
Pokémon Go-spelers moet maar versigtig wees waarsku Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming.
Hy sê hulle het al sowat drie gevalle gehad waar hulle geskakel is oor verdagte omstandighede wat verband hou met dié speletjie.
“Mense bel ons omdat daar verdagte mense laatnag in die strate loop of baie stadig ry. As ons daar kom is dit mense wat besig is om Pokemon te soek,” sê hy. Haefele vrees net dat Pokémon-spelers sal kanse vat om in mense se erwe of ander terreine in te gaan om Pokémon te vang.
In die VSA was daar al gevalle waar op Pokémon-spelers geskiet is omdat hulle laatnag verdag lyk en as ‘n bedreiging voorkom.
Die Herald het ook onlangs berig oor ‘n speler wat se foon geroof is terwyl hy op die Bult na Pokémon gesoek het.
In The Guardian is daar berig oor gewapende rowers in Missouri in die VSA wat die speletjie gebruik om mense na afgeleë plekke te lok.



