Vrou oorweeg regstappe teen Potch Hospitaal
‘n Vrou oorweeg regstappe teen Potchefstroom Hospitaal nadat hulle haar oupa volgens haar baie swak behandel het. Volgens me. Hilda Snyman, is oupa Hercules “Boet” Visser (87) op 22 Julie laatmiddag in saal 9 opgeneem. “Hy was nie siek nie, hy het net gesê hy voel nie lekker nie en dat hy so bietjie benoud …

‘n Vrou oorweeg regstappe teen Potchefstroom Hospitaal nadat hulle haar oupa volgens haar baie swak behandel het.
Volgens me. Hilda Snyman, is oupa Hercules “Boet” Visser (87) op 22 Julie laatmiddag in saal 9 opgeneem.
“Hy was nie siek nie, hy het net gesê hy voel nie lekker nie en dat hy so bietjie benoud voel.
Hy het self daar ingestap en self op die bed geklim.”
“Daar is bloed getrek en plate geneem en daar was niks snaaks, niks buitengewoon nie.”
Volgens haar was hy Saterdag steeds in die hospitaal. Hulle het gedink dat dit net ’n vinnige in en uit sou wees. Hy was ook nog baie geselserig.
“Hulle wou hom nie ontslaan nie. want hy moes volgens hulle vog kry. Hy het ’n drup ingehad, maar dit was toegedraai.”
Toe hulle Sondagmiddag weer na oupa toe gaan het hulle die skok van hulle lewe gekry.
“Hy was vasgemaak aan die bed, sy voete weerskante van die bed vas… sy lyf met ’n band vasgemaak en met ’n drup in sy voet.
Sy lip was opgeswel maar nie blou nie, hy het pers merke in sy nek gehad en was so deurmekaar dat hy nie geweet het waar of wie hy was nie.”

Volgens hospitaal-personeel moes hulle hom Saterdagnag vasmaak omdat hy moeilik was, maar dat hulle hom help om bietjie regop te sit en sorg dat hy goed eet. “Maar die drup in sy voet was Sondag steeds toe,” sê Hilda.
“Hy lê daar, die matras is vuil, dit stink na urine, daar is vuil ou urine- en bloedvlekke op die matras.
“Die hospitaal sê oupa het “renal failure”.
Toe hulle Sondagaand weer na oupa toe gaan is sy toestand tien keer erger en soveel so dat hy hulle glad nie geken het nie. “Ons het gedink dit is sy laaste dae. Dit was baie hartseer.”
Toe sy en haar man oupa Maandagoggend kom haal om na Mooimed Hospitaal te neem was hy steeds vasgemaak, steeds deurmekaar en het steeds na urine geruik.
“ Hy lê daar, die lakens is opgefrommel, hulle het sy klere uitgetrek en net daar gegooi. Toe my man hom optel om op die stoel te kry was hy papnat. Sy voete het in mekaar getrek.
“By Mooimed was hy rustig. Maandagaand het hy ons herken en was myle beter.”
“Die dokter by Mooimed het gesê hulle het nie regtig iets gedoen nie. Hy was net verskriklik gedehidreer en verhonger.
Sy sê oupa het nou versorging nodig waar hy vroeër nog met sy kar rondgery en alles self gedoen het.”
“Ek het nou regshulp gekry en ek gaan dit verder neem. Ek dink hulle het hom seergemaak. Hy het nou versorging nodig en dit is suiwer nalatigheid van die hospitaal. Hulle het hom in die toestand gesit en hulle moet betaal vir sy versorging. Dit is vir my ’n absolute skande,” sê sy.
Volgens die kommunikasiebestuurder van Potch Hospitaal, Modiri Mompati, was die pasiënt rusteloos, verward en ‘n gevaar vir homself. Met die risiko dat hy hom teen die bed kan beseer en dalk van die bed kan val, is daar ’n beleid wat ons as hospitaal moet volg.”
Mompati sê met opname is die familie in kennis gestel oor die kliniese toestand van die pasiënt en ook op die dag van ontslag.
Hy sê die beleid is daar om te verhoed dat pasiënte hulself beseer.
“Lakens word daagliks vervang of wanneer die behoefte ontstaan. Verpleegsters kyk gereeld na pasiënte.
Volgens Mompati het Potchefstroom Hospitaal ‘n klagteprosedure in plek en doen ‘n beroep op die media om hulle en die gemeenskap te help om hierdie meganismes bekend te maak.
“Potchefstroom Hospitaal word deur wetgewing voorgeskryf en ons vra mense om hierdie beleid en prosedures te respekteer,” sluit hy af.
Potch Hospitaal het onlangs die Titaan-toekenning vir gehalte pasiëntsorg en uitnemendheid in die Openbare Sektor verower.




