NewsNews

Man vergruis in tref-en-trap

SASOLBURG. – “My swaer is vergruis, sy kop, sy lyf alles is verguis en hy is velaf soos die voertuig hom gesleep het. Ons wil net weet wat gebeur het. Ons soek berusting, maar hoe kan ons dit kry as ons nie weet wat gebeur het nie?”

So sê Schalk Brits, swaer van Gerrie Kemp (44), wat Vrydagaand, 19 Augustus dood is nadat ‘n voertuig oor hom gery en hom meer as 30 meter ver gesleep het. Die ongeluk het vermoedelik tussen 18:30 en 19:00 op die R57 net na die afrit na die R59 in die rigting van Vanderbijlpark gebeur.
Gerrie het skynbaar die R59 afrit geneem, maar toe beheer oor sy motor verloor en dit het gerol. Die voertuig het op die R57 tot stilstand gekom en Gerrie het of uit die voertuig gekruip of is uit die voertuig geslinger. ‘n Voertuig het daarna oor hom gery en hom meer as 30 meter ver op die R57 gesleep. Die bestuurder van die voertuig het nie stilgehou of die nooddienste gekontak nie.
Gerrie se kop en lyf is vergruis en hy is velaf soos die voertuig hom gesleep het. Volgens Gerrie se familie was hy ‘n wonderlike mens wat baie liefde vir sy familie en vriende gehad het en altyd bereid was om enige iemand te help waar hy kon. Gerrie het as tegniese bestuurder by die Midvaal hospitaal in Vereeniging gewerk. Behalwe sy familie en vriende, was Gerrie se ander passie motorfietse, en was hy op sy gelukkigste op sy ysterperd. Op die noodlottige aand was hy egter op pad in sy silwer Hyundai Getz toe die ongeluk gebeur het. Onderdele van ‘n BMW wat vol bloed was, is op die ongelukstoneel gevind.
“Die BMW moes hom met ‘n massiewe slag getref het wat veroorsaak het dat van die onderdele kon afbreek, en hom toe nog 30 meter verder gesleep het.
“Asseblief, as iemand iets gesien het, help ons om berusting te vind,” het Schalk gesê. Enigeen wat kan help met die ondersoek, moet asseblief vir ao. Mostert van die Sasolburg-speurtak by (016) 976 5366 of vir Schalk Brits by 082 768 5437 kontak.
Gerrie word oorleef deur sy vrou Annette en twee kinders. Sy gedenkdiens is op 26 Augustus vanuit die Coram Deo-gemeente in Sasolburg gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button