BlogsLifestyleOpinions

LYK MOOI – VOEL MOOI

MASSERING – PASPOORT TOT WARE ONTSPANNING

Plaas jouself in die volgende situasie:  rustige musiek speel op die agtergrond, die ligte van die kamer is gedemp en word vervang deur kerslig, die geur van rose hang in die lug… Klink idillies ne?  Dit is presies die atmosfeer wat jou moet begroet as jy vir ‘n massering gaan. Nog voordat die terapeut ‘n vinger op jou gele het, moet jy al kan voel hoe al jou stres en  angstigheid verdwyn en jy vergeet van al die pligte wat op jou skouers rus as Ma, Vrou en Beroepsvrou.

Marlene Boonzaaier
Marlene Boonzaaier

Massering is nie vandag meer net ‘n luukse wat net by spas aangebied word nie, enige goeie skoonheidsalon behoort vele opsies te bied wat elkeen se sak kan pas. Kom ons kyk na die verskillende soorte masserings wat vandag bekend en gewild is:

 

AROMATERAPIE MASSERING:

 

Hierdie massering behels die gebruik van aromatiese olies. Jou terapeut moet vooraf met jou ‘n deeglike konsultasie doen om seker te maak jy is nie allergies vir enige van die olies nie en dat jy ook nie swanger is of borsvoed nie.  Sekere olies is veilig gedurende swangerskap maar vir veiligheid wees eerlik met jou terapeut.  Aromatiese olies kan ook gevaarlik wees as dit nie reg gebruik word nie. Die tegniek van Aromaterapie massering is dieselfde as Sweedse massering.

 

SWEEDSE MASSERING:

 

HIerdie tipe massering is die mees bekendsteen algemene vorm van massering. Dit kan met enige olie gedoen word.  Daar is ook verskeie voordele aan hierdie massering: dit verlig spanning, kan beseerde spiere behandel, verbeter bloed sirkulasie en help om kroniese pyn te verlig.  Weereens moet die terapeut ‘n volledige konsultasie uitvoer voor sy begin om te weet of daar enige mediese rede is wat die massering kan beinvloed.

 

WARM KLIP MASSERING / HOT STONE MASSAGE:

 

Die massering gebruik ook dieselfde tegnieke as sweedse massering, daar word net warm klippe ingespan om die spiere meer ontspanne te maak en die gevoel van totale ontspanning kan ervaar word.

 

As jy nie kans sien vir ‘n vollyf massering nie, is daar nog baie ander opsies wat jy kan oorweeg.

Gaan probeer gerus ‘n skouer en rug massering of selfs ‘n voet en hand massering. Dit kan ook wondere verrig en al die spanning soos mis op die horison laat verdwyn.

 

Buiten spanning is daar ook vele ander kondisies waarmee massering verligting kan bring. Die help vir angstigheid, spysverterings probleme, fibriomialgie, slaaploosheid, sport beserings en nog vele meer.

 

 

 

Refleksiologie is ook ‘n wonderlike massering wat  jy beslis kan oorweeg. Dit vind plaas op die voete en as die terapeut reg opgelei is, kan sy jou dalk bewus maak van kondisies in jou liggaam waarvan jy nog nooit bewus was nie.  Die voete is inderdaad ‘n padkaart van die liggaam.

 

So daar het julle dit dames, ons staan amper aan die einde van die jaar en als word mos eers erger voor die beter word. Voordat dit vir jou voel asof jy net nie meer die pas kan volhou nie, gaan bederf  jouself gerus met ‘n massering,  kort of lank, vollyf of net die hande en voete, elke bietjie kan sy deel bring om jou weer te laat kans sien vir die laaste myl of twee voor die luilekker Desember vakansie.

 

 

LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

Related Articles

 
Back to top button