NewsNews

Gesteelde Milo, terug na twee jaar

SASOLBURG. – Milo, die boelterriër wat in duisende mense se harte gekruip het nadat hy in ‘n erg verwaarloosde toestand in ‘n township teruggevind is, is weer die woef van ouds.

Vaalweekblad het drie weke gelede berig oor Milo, wat twee jaar gelede uit sy eienaars se erf verdwyn het. Sy gesin het alles menslik moontlik gedoen om hul ‘dierekind’ op te spoor, maar daar was geen teken van Milo nie. Hulle het egter geweier om moed op te gee en het bly glo dat hulle hom sou terugkry.

Toe die Sasolburg-polisie onlangs ’n verdagte in Zamdela moes arresteer, het hulle op die uitgeteerde boelterriër afgekom waar hy vermoedelik twee jaar lank vasgemaak was. Hulle het hom na Purrpaws for Life vir behandeling en veilige bewaring geneem. ‘n Foto van Milo is op die organisasie se Facebookblad geplaas, waar sy eienaars se dogter hom herken het. Milo is sodoende twee jaar nadat hy van sy familie geskei is, weer met hulle herenig.

Die man wat hom in Zamdela aangehou het, het hom bitter sleg behandel. Sy ore se punte was afgesny, sy kakebeen was in ‘n stadium gebreek en sy tande stomp gevyl, om maar net ‘n paar goed te noem. Die eens fris en gesonde Milo het maar ‘n skamele 12 kilogram geweeg toe hulle hom daar verwyder het. Purrpaws het hom met sy eienaars herenig en dr. Letitia Swartz van die Sasolburg Diere Hospitaal het hom onder haar vlerk geneem en behandel. Nou, drie weke nadat hy met sy geliefdes herenig is, kan jy nie glo dit is dieselfde hond nie.

Hy het al byna 10 kilogram opgetel, is amper klaar met sy medikasie en is dieselfde liefdevolle, spelerige Milo wat hy altyd was. “Hy is weer die ou Milo. Ons was bang hy gaan ‘n rukkie vat om weer homself te word, maar dit was glad nie die geval nie. Hy het dadelik met sy worshondmaats begin speel soos altyd,” sê Alan Joynt, Milo se eienaar.
“Die mense wat vir ons boodskappe stuur en vra hoe dit met Milo gaan, is amazing. Daar het mense van so ver as Denver in die V.S.A. en uit Australië vir ons boodskappe gestuur,” vertel Alan. Milo se storie is so gewild dat hy ‘n ‘celeb’ in eie reg geword het. Sy eerste openbare verskyning gaan wees by Purrpaws se Paw-Athon wat op 24 September by Stonehaven gehou word.

Dit vind die oggend vanaf 08:00 tot 12:00 plaas en almal is welkom om hulle troeteldiere te vat en in die pret van die dag te deel, of selfs net om vir Milo hallo te sê.
“Al wat nog moet herstel is Milo se vel, maar ons dokter hom goed, so teen 24 September sal hy soos ‘n nuwe hond lyk. Ons is regtig so geseënd en absoluut verheug dat hy na ons toe teruggekom het,” sê Alan.

https://www.youtube.com/watch?v=CYDAKSqeJ3c&feature=youtu.be

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button