

Wel dames, dis weer daardie tyd van die jaar… tyd vir al die lae klere om afgestroop te word en plek te maak vir ligter, gemakliker en koeler uitrustings. Totsiens aan die truie, langbroeke, kouse en skoene en hallo aan die T-hempde, mooi kortmou toppies en sandale.
Daar en dan besef jy die tyd het ook aangebreek om van die hare ontslae te raak wat jy deur die koue wintermaande op die agterbaan geskuif het, want als wat gedra word maak mos toe en steek weg, of hoe?
Nou vir die groot vraag…. Wat is die beste manier om van die hare ontslae te raak? Daar is soveel keuses: gaan jy weer die skeermes en skeerseep uitpluk en afstof, die winkels invaar vir nuwe haarverwyderings room of gaan jy hierdie somer die groot stap neem en jouself toevertrou aan die kennis en vaardigheid van ‘n goeie skoonheidsterapeut en die hare laat verwyder met wax??
Natuurlik is die laaste opsie skrikwekkend want almal vertel jou al jare van hul ervarings en hoe seer dit was en is. Sommige van daardie stories laat ook soms koue rillings teen jou ruggraat afloop.
Wax is regtig nie so erg as wat almal dit afmaak om te wees nie, maar ek gaan nie jok nie, dit is maar seer en gevoelig in die begin, maar soos als in die lewe is dit aanhouer wat wen en na so paar maande is pluk jy die vrugte van jou uithouvermoe.
Ons weet nou al dat die vel bestaan uit drie lae en onder die eerste laag is daar poriee wat sweet afskei om die vel af te koel. Nou as daardie poriee verstop word met stof en die vel nie gereeld gereinig en versorg word nie, ontstaan daar puisies en erger nog, aknee.
Die vel bestaan ook uit poriee waaruit daar hare groei. Hierdie poriee word follikels genoem. Die haar begin groei aan die onderkant van die follikel en groei na bo tot buite die opening in die vel en dis ook die gedeelte van die haar wat jy sien. Wanneer jy skeer of haarverwyderings room gebruik, verwyder jy net daardie gedeelte van die haar wat sigbaar is, want geen middel kan die follikel binnegaan nie. Daardie twee metodes versterk en vermeerder ook die haargroei.
Wanneer jy egter wax, word die hele haar uit die follikel verwyder, dis waarom dit ook seerder is as skeer of enige ander manier van hare verwyder, want die haar word aan die binnekant van die vel gekoppel aan bloedvate vir voeding en ook senuwees.
Die goeie nuus is: wanneer die hare verwyder word met wax veroorsaak dit nuwe hare om in die follikel te vorm maw daar is geen stimulasie van haargroei nie en die vel voel sagter as ooit tevore selfs wanneer die hare weer begin teruggroei.
Nog ‘n voordeel van wax is dat die hare drie na vier weke neem om terug groei
Met sulke voordele is dit beslis die moeite werd om die saak verder te ondersoek en wax ‘n kans te gee. Dit bly egter ‘n geval van persoonlike voorkeur en nie almal is altyd te vinde daarvoor nie, maar dis wyse raad om dit ten minste net een keer te probeer, dalk gaan daar ‘n nuwe wereld vir jou oop.
Nou, voordat jy jou haas na die eerste skoonheidsalon waarvan jy weet, laat ek jou nog ‘n geheim vertel. Wees versigtig en beplan noukeurig… hoekom?
Om die regte skoonheidsterapeut te kies is dieselfde om ‘n vriendin of ‘n vertroueling te kies want dit moet iemand wees met wie jy gemaklik kan wees en vertrou. Iemand met wie jy jou hart kan uitpraat en kan weet dit bly net daar in die kamer. En dan moet sy natuurlik ook die regte kwalifikasies en ondervinding he.
Besoek gerus ‘n paar salonne en kyk noukeurig waarvan jy hou of nie. Luister ook na aanbevelings van vriendinne en familie. Niemand sal sleg praat van ‘n salon waar hul net goeie ervarings gehad het nie. Die spreekwoordelike “word of mouth” is ons terapeute in die skoonheidswereld se beste vorm van advertensie. Daarmee saam wil ek ook se dames, ons as skoonheidsterapeute is ook maar net mense. Somtyds sluip daar klein foutjies in waarvoor ons net kan omverskoning vra. So vergewe ons asseblief en wees lief vir ons
LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER



