Toneelstuk uit Vaal vir Aardklop aanvaar
VANDERBIJLPARK. - Aap in die kraamsaal, ‘n toneelstuk wat onlangs tydens die Komedie-aand in Vanderbijlpark opgevoer is, het die groen lig gekry om vanjaar ook by Aardklop opgevoer te word. Die regie word behartig deur Franciska van der Merwe van Vanderbijlpark, wat reeds 20 jaar drama-afrigting in die Vaaldriehoek aanbied.
Aap in die kraamsaal is ‘n komedie van 45 minute en dryf die spot met die evolusieteorie en hoe die mens van die een-en-twintigste eeu nader aan die oermens is as voorheen! Wanneer Eva Ples Peens opgeneem word vir die geboorte van haar sestiende kind, is dit groot konsternasie in die kraamsaal van dokter Charl Darwin – terwyl Adam Habbilis Peens min besorgd is oor sy vrou en net gepla is met sy eie dierlike instink, soos sy hongerpyne en die trots oor die geboorte van sy “eerste reserwe” van die Peens A-span.
Die stuk is geskryf deur Jaco Visser, ‘n briljante nuwe skrywer en oudstudent van die Akademie vir Dramakuns (ADK) onder leiding van Franciska. Jaco is bekend as die eienaar van Veerpen en van sy gedigte is ook al gepubliseer. Hy speel die rol van Adam Habbilis Peens. Die ander akteurs het albei ook ADK-wortels en Casper Louwrens wat dokter Charl Darwin speel, is ook bekend vir sy rol as Handré in Ratels (hoofseun) wat uitgesaai word op RSG en geregisseer word deur Leon van Nierop. Sarien Taylor speel die rol van Eva Ples Peens en bedryf die ADK-tak vir laerskoolleerlinge vir Franciska van der Merwe in Potchefstroom.
Franciska bied reeds vir meer as 20 jaar drama in Vanderbijlpark aan en talle produksies word plaaslik deur haar behartig of geskryf. Die mees onlangse suksesvolle produksie was Hoërskool Driehoek se musiekblyspel, Spieëltjie… ’n Pantomime” wat sy geskryf het en in Augustus vanjaar in die Etienne Rousseau-teater opgevoer is.
“My grootste trots is altyd wanneer een van my studente dit in die bedryf ‘maak’. Niks anders is meer bevredigend nie.
“Dit is ook lekker dat ek as regisseur nou met professionele akteurs werk. Ek is veral oorweldig dat my ander stuk, Poskaart uit die Karoo wat sang, gedigte en kunswerke insluit, ook aanvaar is,” sê Franciska.
Belangstellendes wat die stuk by Aardklop wil gaan kyk, kan kaartjies bespreek of meer inligting oor die datums van optrede, tye en venue by Computicket kry (kyk onder “Aardklop-program”).



