NewsNews

Slimmeters – ons antwoord jou vrae

Vaalweekblad en Ster ontvang steeds gereeld navrae van inwoners wat meer wil weet oor die werking van die sogenaamde ‘slimmeters’ om elektrisiteitverbruik te bepaal. Andries Visagie, taksekretaris van AfriForum Vanderbijlpark, het by die kundiges gaan kers opsteek en verskaf hier antwoorde op sulke vrae:

Hoekom nou nuwe meters na al die jare?

1) Voorafbetaalde krag beteken die munisipaliteit hoef nie soveel skuld vir elektrisiteit in te vorder nie; 2) Meters hoef nie gelees te word nie; 3) Ou elektromeganiese meters is meestal aan die einde van hul leeftyd; 4) Invordering van fondse is baie meer doeltreffend; 5) Elektrisiteitsdiefstal word bekamp.

Hoekom wys jou kwitansie net ‘n Randbedrag en nie die aantal eenhede wat jy gekoop het nie?

Met die vorige meters (voorafbetaalde krag) het jy eenhede aangekoop teen die bedrag volgens die bloktariefstelsel, maar dit is betaal ten tye van aankoop.
Met die nuwe meters koop jy ‘n Randbedrag en die meter bereken self die toepaslike tarief per eenheid volgens die bloktariefstelsel op die oomblik wat dit gebruik word.

Wat is die bloktariefstelsel / “IBT?”
Dit is ‘n stelsel waarvolgens elektrisiteit se koste per eenheid in vasgestelde blokke al duurder word soos wat meer eenhede gebruik word. Dit is kumulatief per maand.

Wanneer in die maand begin tel die meter weer die kumulatiewe eenhede van nul af? – Elke eerste dag van die maand om middernag

Hoe word die blokke ingedeel?
1) 0 – 50 kWh (eenhede); 2) 51 – 350 kWh; 3) 351 – 600 kWh4) 600+ kWh
Wat is die nuwe tariewe vanaf 1 Julie vanjaar?
Somer
1) 0 – 50 kWh: R1.03 per kWh; 2) 51 – 350 kWh: R1.16 per kWh; 3) 351 – 600 kWh: R1.55 per kWh4) 600+ kWh: R1.86 per kWh. Die somertarief geld soos vanaf September Tarief met BTW ingesluit.
Winter
1) 0 – 50 kWh: R1.44 per kWh 2) 51 – 350 kWh: R1.62 per kWh 3) 351 – 600 kWh: R2.17 per kWh 4) 600+ kWh: R2.60 per kWh.

Wat is ‘n eenheid?
Dit is een kilowatt-uur. Voorbeelde :1) ‘n Verwarmer van 1000 Watt sal in ‘n uur een eenheid se elektrisiteit gebruik ; 2) ‘n Outydse (gewone) gloeilamp van 100 Watt sal in ‘n uur 0.1 eenhede elektrisiteit gebruik; 3) ‘n Moderne LED-lamp van 7 Watt sal in ‘n uur 0.007 eenhede elektrisiteit gebruik; 4) ‘n Geyser van 3000 Watt sal in ‘n uur 3 eenhede elektrisiteit gebruik.

Hoe bereken die meter die verbruik?
Dit word outomaties volgens die bloktarief gedoen vanaf die eerste van die maand: Die eerste 50 eenhede word bereken teen die laagste tarief; die volgende 300 eenhede teen die 2de blok se tarief; die volgende 250 eenhede teen die 3de blok se tarief en alles bo 600 eenhede teen die hoogste tarief. Dit is om hierdie rede dat aankope van elektrisiteit nou slegs Randwaarde is, want jy koop nie vooraf eenhede nie.

Is daar al enige bewyse dat die nuwe stelsel beter werk?
In een van die buurte waar elektrisiteitsdiefstal algemeen was, het die invordering van geld vir elektrisiteit met 60% verbeter na die installasie van die nuwe meters.

Hoe word diefstal bekamp?
Die nuwe meters se kaste bevat alarms wat dit monitor. Die meters word nie meer binne-in wonings geïnstalleer nie, dus is dit moeiliker om te omseil.

Ek het ‘n ou elektromeganiese meter gehad, maar nou met die nuwe meter is my verbruik skielik baie hoër?
1) Die ou meters was jare laas gekalibreer en foute is algemeen; 2) Meters is nie altyd gereeld gelees nie – benaderings is gedoen.
My huishouding se kragverbruik is abnormaal hoog. Hoe weet ek dis korrek?
Die munisipaliteit het baie jare se verbruiksrekords vir elke eiendom. Deur ‘n vergelyking te doen, kan ‘n mens gou sien of die verbruik strook met vorige jare en die gemiddeld. (LW: so ‘n vergelyking aanvaar die soort elektriese toestelle in jou huis en die gebruikspatrone is min of meer dieselfde. Indien jy bv. lugreëling of verhitting bygesit het, gaan die verbruik natuurlik hoër wees).

Ek het reeds ‘n ouer koopkragmeter in my huis. Gaan ek geld terugkry daarvoor wanneer die nuwe een ingesit word?
Die ou meter word net so gelos. Die destydse installasiekoste word nie terugbetaal nie.
Ek het nog baie eenhede op my ouer koopkragmeter. Wat gebeur wanneer ek ‘n nuwe meter kry? Die eenhede wat oor is, word oorgedra volgens ‘n formule.

Kos elektrisiteit jou meer as jy ‘n slimmeter het?
Dieselfde elektrisiteitstariewe geld, ongeag die soort meter. Tariewe word deur NERSA goedgekeur.

Is die nuwe slimmeters regtig akkuraat?
Die meters is deur die SABS en SANAS getoets vir akkuraatheid en die sertifikate is aan AfriForum gewys.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button