Juanita Jobe sit met haar hande in haar hare oor ‘n waterlek in Leeuhof naby die treinspoor. Volgens haar is die lek reeds vier jaar daar, maar die afgelope jaar raak dit erger. Die water loop egter in haar erf en onder die fondasie van haar woning in Springboklaan 13.

“Ek het al hoeveel keer die probleem rapporteer, maar daar word net mooi niks gedoen nie.”
Hoewel sy nie self daar woon nie, maar die huis verhuur, is dit egter ook nie ‘n gemaklike situasie vir die huurders nie omdat daar altyd water in die erf loop. AfriForum, die DA en die VF+ het al ondersoek by die lekkasie ingestel, maar tot op hede het niemand van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit teruggekom na haar nie.
* Chuchi Radebe, woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag aan Vaalweekblad gesê hulle sal aandag gee aan die probleem.



