NewsNews

Regsaksie kom ná universiteite versuim om deure oop te hou

AfriForum gaan ’n klasaksie inisieer teen universiteite wat weens hul versuim en nalatige optrede daarvoor verantwoordelik gaan wees dat betalende studente moontlik nie hul akademiese program vir 2016 sal kan voortsit nie.

AfriForum het van verskeie bronne verneem dat universiteitsbesture ondanks interdikte wat teen betogende studente bekom is, steeds opsetlik versuim om dié interdikte af te dwing.

 

Dié optrede is die direkte oorsaak dat duisende studente buiten finansiële skade, ook ’n verlies aan onderrigtyd ly. Daar is ’n wesenlike moontlikheid dat studente vanjaar se studies volgende jaar sal moet voortsit.

 

AfriForum het reeds ‘n petisie van stapel gestuur waarby ouers hul besonderhede kan voeg om deel te vorm van ’n regsaksie teen universiteite waar studente te na gekom is. AfriForum het universiteite by verskeie geleenthede versoek om dissiplinêre stappe teen die geïdentifiseerde belhamels te neem en daardie studente se studies op te skort en hulle toegang tot kampusse te verbied.

 

Universiteite ignoreer die versoeke en laat voortgesette geweld op kampusse toe. “Ons het gesien hoe die geweld op kampusse toeneem en selfs tot die dood van ’n werknemer gelei het. Dit is onaanvaarbaar dat universiteite toelaat dat studente aangerand, geïntimideer en geviktimiseer word net omdat hulle klas toe wil gaan. Die universiteitsbesture moet nou verantwoordelikheid neem vir hul gebrek aan optrede,” sê Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder.

 

“AfriForum het reeds met sy regspan gekonsulteer en is tans besig om die name en verdere besonderhede van ouers en studente in te samel wat deel van die klasaksie teen verskeie universiteite sal vorm,” sê Charles Castle, AfriForum se regs- en risikokoördineerder.

 

Ondersteun die petisie deur die skakel hieronder te volg:

 

https://afriforumjeug.co.za/universiteitsbesture-laat-ons-studente-vrede-studeer/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button