VANDERBIJLPARK. – Is jy ‘n alleenloper? Is jy geskei of het jy jou lewensmaat deur die dood verloor?
Mense wat “ja” op enige van hierdie vrae kan antwoord, ervaar dikwels gevoelens van verlies en eensaamheid. Indien jy geskei is, ervaar jy gewoonlik ook gevoelens van angs en verwerping.
Alles verander. ‘n Nuwe vriendekring moet opgebou word. Finansieel is daar dikwels baie spanning en onsekerheid.
Elsa du Toit, ‘n Vaaldriehoekse inwoner met eerstehandse ervaring as alleenloper, het besef dat enkellopendes worstel met hierdie gevoelens en ‘n groot behoefte het om met mense wat hulle in soortgelyke omstandighede bevind, kontak te maak.
Sy het onlangs ‘n “Alleengroep” gestig om in hierdie behoefte te voldoen. Al die aspekte van “alleenwees” gaan gedek word, sê Elsa.
“Praktiese aspekte soos die opstel van ‘n begroting, die hantering van eensaamheid, die verwerking van pyn en verlies en nog baie ander onderwerpe gaan gedek word deur middel van gesprekvoering en kenners wat die groep kom toespreek.
Hierdie besprekings gaan afgewissel word met pretaktiwiteite soos vleisbraai en interessante uitstappies.”
Elsa beoog om enkellopendes gedurende Kersfees en Nuwe Jaar by te staan deur die Alleengroep, aangesien dit tye is wanneer enkellopendes of dié wat ‘n maat weens die dood of egskeiding verloor het, veral eensaam voel.
Die groep vergader tweeweekliks en die volgende groepsbyeenkoms is op 8 Oktober om 14:00 by die Riviera Country Club in Mario Milani-rylaan, Vereeniging, digby die gholfklub. Daar is geen ouderdomsbeperking of koste betrokke nie.
Alleenlopers wat belangstel om die byeenkomste by te woon of meer inligting verlang, kan Elsa skakel by (016) 421 1311 of 083 666 8341.



