CommunityNewsNews

Biker-buddies groet vriend Bla-Bla

VANDERBIJLPARK. - Familie, vriende en lede van die Centurians Motorfietsklub het vroeër die maand hul laaste eer betoon aan mnr. Jan van Vuuren, wat op 2 Oktober in ‘n motorfietsongeluk in Vanderbijlpark gesterf het.

//

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het Jan, wat onder sy vriende as Bla-Bla bekend gestaan het, die betrokke dag in die verkeersirkel in Playfair-boulevard, Vanderbijlpark vasgery.
Met nooddienspersoneel se aankoms op die toneel het hulle hom aangetref waar hy ‘n paar meter van sy motorfietswrak af gelê het. Hy het verskeie ernstige beserings gehad. Paramedici het vergeefs kardiopulmonêre resussitasie en ander gevorderde lewensondersteunende behandeling toegepas. Hy is uiteindelik op die toneel dood verklaar.
Volgens ooggetuies het Jan vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor voordat hy teen die sirkel vasgery het, maar gerugte wil dit hê dat hy moontlik ‘n hartaanval gehad het terwyl hy bestuur het en om dié rede beheer verloor het.
Lede van die Centurians Motorfietsklub het ‘n erewag gevorm by die verassingsdiens wat op 5 Oktober vanuit die El Shamma-gemeente op die hoek van Longfellow- en Emmersonstraat, Vanderbijlpark, gehou is. Sy kis was versier met artikels wat twee van sy grootste liefdes uitgebeeld het – ‘n motorfietshelmet en sy gunsteling ryklere, sowel as ‘n WP-vlag.
Bla-Bla word oorleef deur sy vrou, Mercia, kinders en ‘n wye vriendekring.
Mnr. Van Vuuren se kis met die Westelike Provinsie se rugbyvlag, sy ryklere en motorfietshelmet.
Mnr. Van Vuuren se kis met die Westelike Provinsie se rugbyvlag, sy ryklere en motorfietshelmet.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button