EntertainmentLifestyleNews
Richard stoei met die duiwel en bloei vir liefde!
Sanger, akteur en liefdjieskrywer Richard van der Westhuizen stel sy nuwe cd, Yster & Vuur, bekend.
//
Richard van der Westhuizen was al in die 1980’s bekend as akteur, radioman en die stem agter baie oorgeklankte TV-reekse se karakters. Dit was nog lank voordat almal geweet het van sy sangtalent.
In 1991 het hy sy albumdebuut met Tussen Treine gemaak. Die titelsnit, Ballade vir ’n Enkeling en vele ander is vandag nog treffers.
Soos met al sy voriges, is sy nuutste album, Yster & Vuur, ook met groot sorg aanmekaargesit, vertel die sanger. Sy vorige album, Swerwerspoor, is vyf jaar gelede uitgereik.
Mense vra hom altyd hoekom dit so lank geduur het om ’n volgende album uit te reik, vertel Richard. “Want ek werk stadig; dis hoekom!” sê hy.
Dit is vir hom baie spesiaal dat sy seun, Conley, die tromme op Yster & Vuur gespeel het.
Die titelsnit van Yster & Vuur word nou ook as ’n musiekvideo uitgereik. Dié liedjie gaan oor ’n terugskouing van ’n harderige lewe, verduidelik Richard. “Maar nie noodwendig myne nie!” skerm hy vinnig. In dié liedjie sing hy onder meer: Ek het brûe verbrand en met die duiwel gestoei / die houe gevat en vir die liefde gebloei.
Daar is 13 liedjies op die nuwe album, elk met sy eie bekoring. Die titelsnit, Yster & Vuur, het groot trefferpotensiaal maar luister gerus ook na Bettysbaai se berge en In my wentelbaan, ‘n gedig wat oorspronklike deur Leon van Nierop aan Richard gestuur is. Richard het ‘n versie en refrein bygeskryf, die woorde getoonset en die resultaat is iets heel besonders.
Richard se musiek is diep-musiek en dink-musiek, hier en daar ‘n lekker ballade wat ‘n storie vertel. Sy nuwe album is beslis ‘n aanwins vir die Afrikaanse musiek-genre.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



