NewsNews

Malema wil wit mense se vrede versteur

Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), het gister buite die Newcastle-landdroshof gesê: ‘We are not calling for the slaughtering of whites, at least not for now’.

Volgens die VF Plus, die DA en AfriForum het Malema basies gesê daar kan ‘n tyd kom wat hy swart mense sal vra om wittes uit te moor en sy uitlatings is niks anders as haatspraak nie.

Malema het sy ondersteuners toegespreek waar hy in die landdroshof op aanklagte wat verband hou met sy aanmoediging om grond te beset, verskyn het. Malema is van mening hy het ‘apartheidswette’ oortree en hy sal dit tot in die hooggeregshof beveg.

Malema het onder meer aan ondersteuners gesê wittes is geensins daarop geregtig om grond in Suid-Afrika te besit nie, aangesien wittes “swart volksmoord gepleeg het” toe hulle swart mense van hul grond ontneem het en dat hy wit mense se vrede wil versteur. Hy het ook gesê dat alle grond in Suid-Afrika aan swart mense behoort en dat dié grond sonder vergoeding van wit mense afgevat moet word.

Volgens dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, is Malema besig om rassehaat op te blaas.

“Deur mense aan te moedig om onwettig grond te beset maak Malema homself net so skuldig as diegene wat onwettig optree en die wette van die land verbreek.”

Hy het gesê die VF Plus sal daarom ʼn klag by die parlement se etiek-komitee teen Malema indien oor die feit dat hy die ampseed wat hy by die parlement afgelê het, verbreek.

“Sy uitlatings is rassehaat en skep die potensiaal van ʼn burgeroorlog in Suid-Afrika.”

Volgens Phumzile van Damme, die DA se nasionale woordvoerder, het gewelddadige en dreigende uitlatings nie ʼn plek in die land se grondwetlike demokrasie nie. “Die Grondwet is gegrond op die demokratiese beginsels van ‘menswaardigheid, gelykheid en vryheid’ en die feit dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin lewe,” het sy gesê.

“Die DA strewe na ʼn nie-rassige, nie-seksistiese Suid-Afrika, vol geleenthede en hoop vir al ons mense. Haat en geweld doen net afbreuk aan hierdie visie en vernietig Nelson Mandela se droom wat hy in 1994 vir ons pragtige land gehad het.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button