BlogsLifestyleNewsOpinionsSport

CANSA – Dive for Cancer Rally…. Aquamania – ‘n duikerperspektief

Adv. Ansie Swanepoel van Vereeniging, wat baie nou betrokke was by die organisering van Aquamania se unieke duik ten bate van Cansa, vertel hier meer oor hoe die idee beslag gekry het en uitgevoer is. Sy bedank ook vir Aquamania, haar vriende, sakelui en die publiek wat die insamelingsveldtog met soveel passie ondersteun het.

Deur Ansie Swanepoel
Nou ja, as betreklik ‘jong’ duiker het ek nog nooit die hunkering gehad om in ‘n tenk waar my voete eenkant en my vingers ander kant op een slag raak aan te durf nie… nou nie juis dat ek bang is vir enige iets nie, (behalwe hare trek), maar, ja, so word ek deel van nog ‘n Aquamania hoofletter gebeurtenis…
Conrad en Fiona Lamont, (die siel en asem van Aquamania), vra so ewe of ek en jonge Werner Scriven so op pad terug vanaf ‘n epiese duiknaweek, nie idees vir fondsinsameling het nie; dit is immers die rede vir die “duik-in-die-tenk” uitstappie….
Nou ja, toe ek nog ‘n jong aanklaer was, en ‘n groentetuin van formaat gehad het, het ek die skoonmaker die verkoopwerk by die werk laat doen, en dan, sommer self ook ‘n pakkie gekoop wanneer hy die kantoor ingestap het… Samuel het dit nooit verstaan, maar, ja, dit is nou maar net nie een van my sterk punte – fondse insamel…
Werner het ‘n briljante idee voorgehou, maar, al het die rook tot in my tone neergedaal; geen sinvolle idee wou my rookwolk kom verdamp nie….
Toe tree die liewe FaceBook in en red my… ‘n Vriend daag my (‘n aleenloper!) uit om te plaas dat ek gaan trou…. Nou ja, my blad het omtrent verdrink onder die kommentare – skok en gelukwensings, en dreigemente vir die voornemende Mnr Reg, het my nogal behoorlik laat giggel – sien – dit was ‘n slenter om mense te oorreed om CANSA te borg….
Ondertussen het Conrad vertel, na intense ondervraging, dat elke duiker sy duik aan iemand wat die stryd gestry het of steeds stry, kan opdra. Fiona meld toe dat sy so ‘n deftige byderwetse swartbord het waarop ons daardie inligting kan tentoonstel terwyl die duiker sy/haar uur in die tenk spandeer…
So, toe soos net my kop werk, word een plus een toe sommer elf…. My vriendin, Rabia Kays is seker die dapperste vrou wat ek ken… sy worstel met kanker, maar, haar blymoedigheid en weiering om die Groot K toe te laat om haar menswees te steel… ek kan mos my duik aan haar opdra… en omdat ons ‘n gesamentlike vriendin Aldi het, wat weet van geld insamel, sy kan mos die finansies insamel…. En almal wat op my FaceBook plasing reageer het, kry ‘n vriendelike boodskap dat hul by Aldi die fondse kan inbetaal….
En so word die mees buitengewone gebeurtenis in my lewe gebore…
Kyk, ek spring uit en af alles – vliegtuie, bote, mure, kragtorings, berge, noem dit, as daar gespring kan word is ek daar – maar, hierdie, hierdie was iets totaal anders, buite my norme, buite my stoutste verwagtinge…
My Buddy (daar is nie ‘n Afrikaanse word hiervoor na my beskeie mening) Batie Haasbroek, het eerste geduik, namens ‘n jonge ma wat die stryd gewonne gegee het, en, die emosie in haar oë het boekdele gespreek…
Ek sou 18:00 duik – wanneer Rabia opdaag saam met haar man, Feroze… Dit was die enigste manier waarop ek my bewondering vir haar en ander kankervegters kon betoon – om self in ‘n minder hmm, noem dit gemaklike omgewing, ‘n klein bietjie van MY bewegingsvryheid op te offer- immers, hoeveel offer mens op as daardie ongewensde dief genoem Kanker by jou lewe inbreek…
Haar aankoms was belaai met emosie – wel, woorde had ek nie – ‘n totaal van R 30 692,00 vir CANSA. Ek weet steeds nie wie hoeveel gegee het nie, tewens, ek wil nie weet nie, want, mens gee immers nie met die doel om beloon te word nie; maar ek weet dat die oorgrote meerderheid gekom het van Rabia se vriende en familie… Sjoe, ek weet nie wie van die Aquamania span die meeste oorkom was met emosie nie, want in alle eerlikheid – nie een van ons is fondsinsamelaars nie, en ek persoonlik het nie meer as so om en by R 2 000,00 verwag nie…
Die duik – my bene het omtrent gebewe toe ek daardie trappies opgeklim het met die silinder op my rug, en, my oë het met moeite nie soutwater in my duikbril gedeponeer… die inklim het my hart letterlik aan die hardloop laat gaan – en die tyd daar binne- afgesny van die buite lewe maar terdeë bewus van alles – net hier buite my bereik – miskien is dit hoe mens voel wanneer jy bestraling en chemo kry – jou brein wil eintlik daar buite tussen die mense – JOU mense wees; maar jou liggaam is vasgevang in ‘n sel waaruit daar vir nou geen ontsnapgaatjie is nie…
Om na my duik hand-aan-hand saam met Rabia om die baan te stap – om letterlik net te luister na hoe sy dapper, die newe-effekte ten spyt, verbete vasklou, hoe sy bevoorreg voel oor die aandag – oor haar foto op ‘n wit papiersakkie met klippe en ‘n kersie in…Vader, hoeveel het EK om U oor te bedank….
Ons groet nie te lank daarna; haar afskeidswoorde- dankie dat ek haar waardig geag het… haar woorde weergalm steeds daagliks in my ore – genade – Ek is die bevoorregte ene – nie sy nie…
Om daar in die middel van die baan langs Amanda Vermeulen, Aquamania se eie amptelike fotograaf, die ontsag van die wit fotosakkies se kersliggloei te beleef… Die Here self het daar gestap, gebuk, gekyk…
Die les – eenvoudig, omvangryk, lewensverrykend, oordonderend – net dit – ‘n klein idee gebore uit ‘n opregte hart – kan aan iemand anders se lewe nuwe inhoud gee… opregte onbaatsugtige omgee KAN nie in rand en sent vasgevang word nie…
Rabia, en elke kankeroorwinnaar, mag jul besef hoe kosbaar en besonders jul bydrae tot die lewe van ons, nietige sterflinge om julle is…
Conrad en Fiona, ouers van Aquamania, wat opoffer, self die kostes dra, jul verdien ‘n saluut van ‘n paar duidend dolfyne gevolg deur walvisse en ons gunsteling haaie… by nabetragting… nee, selfs so ‘n fanfare kan steeds nie uitbassuin hoe kosbaar julle is nie…
CANSA… ek dink nie ons wat nie daagliks met hierdie Groot K in stryd gewikkel is, kan besef hoeveel jul so stil-stil doen vir die mensdom… mag jul koffers oorloop – nie net met geld nie maar met seën juis omdat jul sonder groot vertoon gee, gee en aanhou gee…
En, ja, nie eens die stormwind kon ‘n paar dapperes verdryf nie… om Sondag, 16 Oktober, met rooi oë saam met die res van die Aquamania-span die son te kon sien opkom… en met ‘n lied in my hart tuis die Vader te kon dank vir genade en spesiale liefde vir dapper Groot K vegters – niks kan daarby kom…

Foto 1: Ansie en haar vriendin Rabia Kays.

Foto 2: Die kersligsakkies ter ere van kankervegters.

 

Ansie en Rabia

Ansie Rabia sakkies

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button