CommunityEntertainmentEventsLifestyleLocal newsPhoto Galleries

Dis weer tyd vir die Goeiehoek-kontreimark!

Saterdag is dit weer tyd vir die Goeiehoek-kontreimark op die plaas Bosrand in die Vereeniging-distrik. Maak gerus 'n draai en ervaar ware boere-gasvryheid!

VEREENIGING. – Op 12 November is dit weer tyd vir die Goeiehoek-kontreimark op die plaas Bosrand in die Vereenigingdistrik, 12 kilometer vanaf 4 Way Motors.
“Dis ‘n uitstekende geleentheid vir die publiek om sakpas Kersgeskenke vir familie en pragtige skeppings vir hulself aan te skaf. Ons het ongelooflike kreatiewe uitstallers met werklik unieke items wat jy nêrens in enige winkel te koop sal kry nie!” sê een van die organiseerders, Annatjie du Toit.
Die nuutste neiging is baard-olies vir die manne, verpak in die mooiste geskenkformaat denkbaar.
Die Goeiehoek-mark is ook nét die plek om vroeg reeds die beskuit- en kleinkoekieblikke te vul vir die vakansie-uittog! Pak ook die spens en vrieskaste vol met plaasvars produkte.
Vir die tuisblyers is daar alles wat nodig is om die tuin ‘n hupstoot te gee en die huis op te vrolik.
Met die Augustusmark was die gebakte skaapkoppe hopeloos te min vir die groot aanvraag, dus raai die organiseerders alle belangstellendes aan om vooraf bestellings te plaas. “Ons bied iets te ete aan elke smaak en voorkeur… kom beproef ons heerlike tradisionele etes en dekadente teetuin verleidings!” beloof Annatjie.
Soos in die verlede besoek die Suid Afrikaanse Bloeddiens se mobiele eenheid die mark ook weer op 12 November. Met die feesseisoen op hande word daar altyd meer bloed benodig. Dankie by voorbaat aan elke skenker.
“Ons verwelkom steeds Bybels, nuut of tweedehands, in enige van ons landstale vir herverspreiding, asook skenkings soos tweedehandse klere, enige huishoudelike artikels en onbederfbare voedsel wat aan minderbevoorregtes versprei word,” sê sy.
Nadere besonderhede is beskikbaar by Annatjie by 083 541 9908.
* Die roete-aanwysings is soos volg: Neem die R42 Vereeniging – Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in syaansluiting – rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas links ná die syaansluiting. GPS: S26°38’58.1 E28°06’50.0

Related Articles

 
Back to top button