CommunityNewsNews
Gimmies groet die man met die ysterhand
VEREENIGING. - Dit is met groot hartseer dat een van die Vaaldriehoek se bekendste en beminde skoolhoofde aan die einde van die jaar totsiens sê. Mnr. Faan Beeslaar, hoof van Vereeniging Gimnasium, was vir 38 jaar ononderbroke in die onderwys betrokke. Hy was nege jaar adjunkhoof en 18 jaar skoolhoof, waarvan die laaste vier jaar veral sy tol geëis het. Volgens mnr. Beeslaar was die laaste vier jaar veral moeilik nadat die oud-Hoër Tegniese Skool (HTS) en oud- Vereeniging Hoërskool (VHS) saamgesmelt het. “Ons het tydens die samesmelting ooreengekom dat ek aan die stuur van sake sal wees tot einde 2016. Die samesmelting was nie altyd maklik nie en ek moes sterk staan en optree om almal onder een sambreel te kry,” sê hy.

//
“Hoewel ieder en elk nie ten gunste van die samesmelting was nie, is die skool besonder trots op personeel, ouers en leerlinge wat bankvas agter ons staan.
“Generaal de Wet het tydens die Anglo-Boereoorlog nie saam met sy broer op dieselfde trein geklim omdat sy broer oorgegee het nie. Gimmies se trein gaan voort en die wat wil saamry is welkom,” sê mnr. Beeslaar.
Wanneer jy hom vra of Gimmies anders is as ander skole, kom die antwoord maklik: “As daar een belangrike aspek is wat die oud-HTS en oud- VHS in gemeen gehad het, is dit omgee vir kinders. Ons grootste kenmerk is om kinders wat nie alles het nie, te koester en te sorg dat hulle graad 12 slaag. Ons berei hulle voor vir die samelewing.”
Mnr. Beeslaar beskryf homself nie as ‘n negatiewe mens nie en glo so ‘n persoon sal nie die onderwys oorleef nie. “Wat my egter in die onderwys pla is die sogenaamde vryheidsgees wat oor ons land spoel. Dit veroorsaak dat sommige kinders en jongmense nie verantwoordelikheid wil aanvaar nie. Daar moet meer aandag aan opvoeders gegee word en hulle moet beskerm word. Ek verstom my soms vir sommige ouers wat so naïef is. Kan hulle nou nog nie agterkom dat voedselsekerheid en die tegniese bedryf die toekoms is nie? Van ons draai ons kinders in watte toe tydens hul skoolloopbaan, asof die wêreld na skool nie uitdagings het nie,” meen mnr. Beeslaar.
Wat sy sukses oor die afgelope paar jaar behels brei hy nie veel uit nie, maar sê wel ‘n skool of skoolhoof se sukses word nie gemeet aan hoeveel keer hy gewen het en wat hy gebou en gevestig het nie, maar eerder aan wat die skool se kinders na skool bereik. “As ons praat van persoonlike suksesse is dit my beskeie mening om te sê dit dissipline, regverdigheid en prag akademiese uitslae en prestasies wat ek geïmplementeer en aangemoedig het.
Mnr. Beeslaar sien egter baie uit na sy aftrede, maar gaan beslis nie stilsit nie. Volgens hom is die kus vir vakansie en bly hy in Vereeniging. Hy begin in Januarie 2017 weer werk en wil waar hy gaan ‘n verskil maak. Verder wil hy by die kinderwelsyn en kindersorg betrokke raak. “Wie weet dalk sit ek in 2024 in die parlement,” sê hy grapperig. Mnr. Beeslaar antwoord in die woorde van Jan F. Cilliers wanneer jy hom vra of hy bekommerd is oor die toekoms van die land en onderwys: “En hierdie pure man jou kind, Suid-Afrika. Wat vrees ons dan? Geseën sal wees die grond, die bloed, die vlees wat sulke vrugte dra. In ons De Wet se gees voorwaarts. Suid-Afrika.
“Besondere dank gaan aan die gemeenskap, skool, onderwysers en leerlinge. Ek groet Gimmies, wagtend op die nuwe kaptein en voorsien ‘n borrelende skool onder nuwe leierskap.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



