
//
Dit is die woorde van Vanessa Pieterse wie se sewejarige seuntjie op 3 November geskok is toe hy ingedagte aan die kragdrade van een van die lamppale gevat het.
Vanessa het die kinders by die skool, Monumentertjies by Laerskool Vryheidsmonument gaan aflaai. Toe sy uitklim om die skooltasse uit die kattebak te haal, het sy haar seun hoor skree: “eina, mamma, eina.”
Sy het omgedraai en gesien haar seuntjie, Ruwan, hang basies aan ‘n draad. “Sy voetjies het omgekrul en sy lyfie was styf. Ek moes hom letterlik van die draad af trek,” sê sy. Sy het Ruwan dadelik dokter toe geneem, waar hulle hom ondersoek het en verskeie toetse gedoen het om te bepaal of hy enige skade opgedoen het.
“Gelukkig het hy geen skade of brandwonde opgedoen nie en ons is so dankbaar daarvoor. Ek het regtig baie groot geskrik,” sê Vanessa. Intussen het afgevaardigdes van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit die lamppaal met die kragdrade reggemaak om te voorkom dat so iets weer gebeur.
“Dit is werklik gevaarlik en dit is boonop nog voor ‘n skool ook. Ek is net bly my kind is nie ernstig beseer nie, want dit kon soveel anders gewees het.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



