CommunityNewsNews

‘n Gebed vir Brandon

VANDERBIJLPARK. - Toe Brandon Fourie (25), die aantreklike, intelligente seun van Hennie en Elda Fourie op 3 Julie vanjaar vermis geraak het, het dié ouerpaar nog nie geweet dit was die voorspel tot onmenslike hartseer nie.

//

Sy ouers het geweet van Brandon se dwelmstryd. “Hy het die laaste ruk hard probeer om sy lewe reg te kry en het daarin begin geslaag,” sê Hennie. Sy ouers onthou hom as ‘n baie intelligente seun – hardwerkend en liefdevol. Brandon was baie lief vir die natuur en mal oor diere. “Hy was ook ‘n baie diep mens wat diep gedigte en briewe kon skryf,” sê sy pa.
Die presiese oorsaak en omstandighede van sy dood word nog deur die Vanderbijlparkse Polisie ondersoek. Daar is gerugte en vermoedens dat hy nie uit vrye wil ‘n dwelm-oordosis geneem het nie, maar dat iemand anders dalk by sy dood betrokke was.
Hoe verwerk ouers die verbittering teenoor diegene wat hul kind aan die dwelms blootgestel het wat uiteindelik sy lewe sou eis? Vir Hennie en Elda gaan dit nou daaroor om ander jongmense en kinders van die gevare bewus te maak.
Die afgelope Saterdag het hulle saam met ander mense wat dieselfde boodskap wil uitdra, aan ‘n dwelm-bewusmakingsdag deelgeneem. Pers linte is om die bome gebind en kruise is in die veld geplaas waar Brandon gesterf het. ‘n Gebed is ook gedoen op die presiese plek waar sy liggaam gevind is. Dit was die ouers se manier om hulde aan hul kind te bring, maar ook om ander jongmense te waarsku voordat dit te laat is. “Ons is verskriklik verbitterd om te sien wat in daardie deel van ons dorp aangaan, en dat nie veel gedoen word om van die probleem ontslae te raak nie. Dis verskriklik hartseer om te sien hoe mense hulle lewe vir R50 (se dwelms) verkoop. As ons dié probleem kan uitwis, sal baie van ons dorp se huisbraak, diefstal en moordprobleme ook verdwyn,” is Hennie se mening. Die Fouries beplan om voortaan gereeld sulke bewusmakingsdae in die omgewing aan te bied. As ander kinders betyds uit die dwelmhandelaars se web gered kan word, was Brandon se dood nie vergeefs nie.
* Enigiemand wat weet waar Brandon hom tussen 3 en 6 Julie 2016 bevind het, hom gesien het of meer weet van wat met hom gebeur het, kan sersant D. van Coller van die Vanderbijlparkse Polisie by (016) 910 9033, of Hennie by 082 920 6201 skakel. Alle inligting sal baie vertroulik hanteer word.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button