CommunityNewsNews

Só kan Vaal ‘n u-draai teen dwelms maak

// Inligting oor sulke sterftes is skraps, want die polisie reik dit nie amptelik uit nie. Die families van sulke slagoffers is dikwels te getraumatiseerd om met die koerant te praat of vrees die stigma van ‘n dwelmdood en bly liewer stil. Sedibeng en Heidelberg word tans uitgesonder as twee van die gebiede met die …

//

Inligting oor sulke sterftes is skraps, want die polisie reik dit nie amptelik uit nie. Die families van sulke slagoffers is dikwels te getraumatiseerd om met die koerant te praat of vrees die stigma van ‘n dwelmdood en bly liewer stil.
Sedibeng en Heidelberg word tans uitgesonder as twee van die gebiede met die meeste Nyaope-gebruikers in die land. En moenie dink dat die dwelmsmouse “net swart kinders in townships” teiken nie. Kinders van alle rasse en verskillende sosio-ekonomiese agtergronde, selfs laerskoolkinders in gegoede skole, word deesdae intensief gewerf as verspreiders of gebruikers.
Só sê mnr. Jan Combrinck, stigter van U-Turn Drug Awareness, ‘n afdeling van Open Water Advanced Risk Solution, en tans ook direkteur by die Lesedi Community Centre. Hy sien daagliks die vernietigende gevolge van dwelmverslawing by jong kinders en tieners.
Na ‘n loopbaan van byna 30 jaar in die polisie, ‘n deel daarvan in topbestuur waar hy hom toegespits het op dwelmverwante sake en die okkulte, is Jan nou reeds etlike jare saam met verskeie staatsdepartemente betrokke by die aanbieding van kursusse oor die gevare van dwelmmisbruik. Hoewel hy hom onlangs in Midvaal gevestig het en ‘n beradingskantoor in die gebied bedryf, neem sy werk hom steeds dwarsoor die land. Hy was reeds betrokke by inligtingsprojekte by sowat 2 000 skole landwyd en het ook verskeie TV-produksies en DVDs oor dwelmmisbruik op sy kerfstok.
Sy visie is ‘n goed ingeligte gemeenskap in ‘n poging om Suid-Afrika dwelmvry te maak, en om die stigma wat aan dwelmmisbruik kleef, te verwyder sodat meer kinders, jongmense en hul ouers na vore kan kom en betyds hulp kan kry. Sy passie is om aan sulke jongmense die nodige professionele bystand te gee om uit die dwelmgreep gerehabiliteer te word.
U-Turn, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat ook as diensverskaffer by die onderwysdepartement geregistreer is, het reeds hande gevat met ander vennote soos AfriGuard, en is ook in die proses om samewerkingsooreenkomste met rolspelers soos plaaslike munisipaliteite, Sanca en Justisie te bespreek. Danksy sulke samewerking sal die kapasiteit beskikbaar wees om meer intensiewe ondersoeke en risiko-analisering, proaktiewe ingryping, identifisering van dwelmmisbruik, monitering en evaluering, berading, rehabilitasie, integrering en nasorg in die Vaaldriehoekgebied te doen.
U-Turn bied reeds ‘n buite-pasiënteprogam van ses weke aan om dwelmafhanklikes tydens hul herstel te ondersteun.
Jan sê ‘n pasafgelope bewusmakingsveldtog onder leerlinge van Eureka- en Krugerlaanskool het weer eens aan hom bevestig hoe vatbaar kinders met ‘n lae selfbeeld, en veral kinders wat sonder ‘n vader as rolmodel grootword, vir dwelmmisbruik is.
“Sommige kinders ervaar geweldige psigiese pyn en voel heeltemal verwerp. Dit is noodsaaklik dat die gaping wat deur ‘n afwesige pa gelaat word, betekenisvol gevul moet word sodat die kinders ‘n sterk persoonlike identiteit ontwikkel,” sê Jan. Van die kinders word met uitmuntende resultate by vakansiewerk betrek.
Nadere besonderhede oor U-Turn se funksies is elektronies beskikbaar hier
U-Turn Drug Awareness, Afriguard en Open Water Advanced Risk Solution het onlangs 'n samewerkingsooreenkoms gesluit om 'n ystervuis teen dwelmmisbruik te vorm. Van links is Ian Olivier, direkteur: Afriguard, Peet Pieterse, uitvoerende bestuurshoof van Open Water, Jan Combrinck, stigter-direkteur van U-Turn, Bester Tentezan direkteur: Afriguard, en Danie Lodewyx, senior opvoedkundige sielkundige. Dié groep wil 'n impak maak op dwelmmisbruik in skole met behulp van hul gesamentlike programme.
U-Turn Drug Awareness, Afriguard en Open Water Advanced Risk Solution het onlangs ‘n samewerkingsooreenkoms gesluit om ‘n ystervuis teen dwelmmisbruik te vorm. Van links is Ian Olivier, direkteur: Afriguard, Peet Pieterse, uitvoerende bestuurshoof van Open Water, Jan Combrinck, stigter-direkteur van U-Turn, Bester Tentezan direkteur: Afriguard, en Danie Lodewyx, senior opvoedkundige sielkundige. Dié groep wil ‘n impak maak op dwelmmisbruik in skole met behulp van hul gesamentlike programme.
Honde en perde word ook tydens die bewusmakingsaksies ingespan in berading, terapie en opleidingsprogramme.
Honde en perde word ook tydens die bewusmakingsaksies ingespan in berading, terapie en opleidingsprogramme.

Uturn2

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button