BlogsCommunityNewsOpinions

Mag haar goedheid voortleef en die kwaad oorwin

Redaksionele kommentaar - Michelle Stephenson se dood is ‘n geweldige verlies vir die Vaaldriehoek - nie net oor die lewens wat sy help red het nie, maar oor die positiwiteit waarvoor sy so bekend was en waarmee sy 'n verskil in ander se lewens bewerkstellig het.

Retha Fitchat

Die ironiese verband tussen die week se twee hoofberigte kan nie misgekyk word nie. Aan die een kant berig Vaalweekblad oor die tragiese dood van ‘n jong man, Brandon Fourie, wie se lewe nog voor hom uitgestrek het. Die rede? Vernietigende dwelms wat deur hartelose smokkelaars aan ons gebied se jongmense verskaf word. Hierdie misdadigers voel nie ‘n snars vir ons kinders se lewens nie en nog minder vir hul dood.
Aan die ander kant berig Vaalweekblad oor die moord op speurder Michelle Stephenson, wat ‘n passie gehad het om dwelmafhanklikes en ander jongmense in nood te help en lewens te red.
Hoewel almal wat haar geken het nog in skok is oor haar onverwagse dood, weet ‘n mens klaar dié vrou gaan nie maklik vergeet word nie.
Michelle was die stigter van Jessica’s Wall of Life, ‘n organisasie waarheen ‘n jong ma haar baba kan neem as sy die kleintjie nie wil hê nie. Baie sulke moeders is dwelmafhanklikes wat nie vir ‘n baba kan sorg nie. Voorheen is baie sulke babas by geboorte vermoor of lewend op ashope of in toilette weggegooi. In Michelle se oë was elkeen van dié lewetjies ‘n kosbare deel van die skepping, soos wat dit inderdaad bedoel was om te wees.
Jessica’s Wall of Life het in 2006 beslag gekry toe Michelle, destyds ‘n speurder by die Boipatong Polisiestasie, ‘n pasgebore dooie baba op die ashoop in Vanderbijlpark aangetref het. Die baba was blykbaar pas na geboorte versmoor. Michelle het die dogtertjie in haar arms opgetel, in stryd met wat sy as polisiebeampte geleer is, naamlik om nie aan ‘n misdaadtoneel te peuter nie en nie emosioneel betrokke te raak nie. Sy het dadelik ’n band met die dooie dogtertjie gevoel.
Michelle het besluit dat sy iets sou doen om te voorkom dat nog babas soos dié een, doodgemaak word. Sy het die dogtertjie “Jessica” genoem, en haar amptelik postuum aangeneem. Hoewel klein Jessica Stephenson nooit die warmte van ‘n liefdevolle moeder kon ervaar nie, is sy op ‘n menswaardige manier tydens ‘n behoorlike seremonie in ‘n kissie wat spesiaal vir haar gemaak is, begrawe.
Die idee van ‘n plek van veiligheid vir sulke ongewenste babas het vorm begin aanneem en in Februarie 2008 kon Michelle die eerste Jessica’s Wall of Life in Vanderbijlpark bekendstel. Veertien babas se lewens is intussen danksy dié projek gered.
Michelle se dood is ‘n geweldige verlies vir die Vaaldriehoek – nie net oor die lewens wat sy help red het nie, maar oor die positiwiteit waarvoor sy so bekend was. Mag haar goedheid voortleef en uitkring, en uiteindelik bydra om die kwaad in ons gemeenskap te oorwin. Dan sal geen baba, geen tiener en geen jongmens meer hoef te sterf weens die boosheid van dwelmsmouse en ander gelukvertrappers nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button