Ontevrede inwoner van Midvaal kla oor kragonderbreking
Mnr. Dennis Ryder, lid van Midvaal se burgemeesterskomitee, gemoeid met ingenieursdienste, antwoord op inwoner se klagte oor kragonderbreking.

‘n Ontevrede inwoner van Midvaal skryf:
Ek wil baie graag by die DA-raad van Midvaal weet wat se diens hulle lewer? Hulle het Woensdag aan die straatligte gewerk. My huis se krag was af van 10 uur, het gerapporteer, dit is 23:00 tydelik reggemaak. Donderdag was die krag weer af, is 21:00 weer tydelik reggemaak, belowe hulle is Vrydagoggend vroeg daar.
Dit is nou Saterdag en daar was nog niemand. As jy bel om dit te rapporteer sukkel jy dat hulle die foon antwoord. As hulle eendag antwoord, moet jy wag vir iemand om mee te praat, dan word die foon in jou oor doodgedruk. Nou wil ek wee: is dit die diens waarmee hulle spog? Ek wil net graag weet hoe Midvaal instandhouding doen. Hulle maak beloftes en hou nie daarby nie.
Mnr. Dennis Ryder, lid van Midvaal se burgemeesterskomitee, gemoeid met ingenieursdienste, antwoord:
Midvaal wil graag verskoning vra vir die ongerief. As gevolg van die weerlig storm wat ons Woensdag in die omgewing beleef het, het ons wel ‘n probleem met ons telefoonstelsel gehad die afgelope paar dae. Die storms is ook verantwoordelik vir skade oor ons hele netwerk en ons beamptes werk hard om al die probleme vinnig op te los.
Alle probleme en klagtes moet deur die stelsel gerapporteer wees maar waar dit nodig is om probleme te eskaleer is inwoners altyd aangemoedig om die verantwoordelike raadslid te kontak. Selfoonnommers is beskikbaar op ons webblad https://www.midvaal.gov.za/index.php/about-2#political-office-bearers .
Ons vra weer verskoning vir die ongerief en verseker al ons inwoners dat ons hard werk om puik diens te lewer. Klagtes soos hierdie een word ook verwelkom want dit wys uit waar verbeterings nodig is.



