Stephenson se beweerde moordenaars agter tralies
VANDERBIJLPARK. - Die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ao. Michelle Stephenson (44) in haar woning in Westinghouse-boulevard in Vanderbijlpark vermoor het, het gister vlugtig in die Vanderbijlparkse landdroshof verskyn.
Buti Samuel Mofojane (35) en Eliot Simon Mokgemi (44) is aangekeer toe hulle ao. Stephenson se skootrekenaar probeer verkwansel het. Die koper het die skootrekenaar oopgemaak en ‘n foto van ao. Stephenson op die skerm gesien. Hy het hulle die helfte van die geld gegee en gesê om later die ander helfte te kom haal, waarna hy die polisie gebel het.
Lede van die Police and Prisons Civil Rights Union (POPCRU) het gister hul ondersteuning buite die hof gewys, terwyl hofverrigtinge aan die gang was.
Ao. Stephenson se roudiens vind op 25 Novemner by die NG-Oos gemeente om 14:00 plaas.
Hulle staan tereg op aanklag van moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Mofojane en Mokgemi sal weer op 1 Desember in die hof vir ‘n formele borgaansoek verskyn.



