Groot skade wag as kanaal nie gou herstel word
Die gebreekte betonblokke in die SE7-kanaal belemmer die vloei van stormwater en laat die water ook tydens swaar neerslae in die erwe en omliggende paaie opdam.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Bekommerde inwoners van SE7 en hul raadslid, Yvonne Coertze, het tydens die afgelope weke se vloede en storms met kommer gesien hoe die stormwater al hoër opstoot weens verskeie obstruksies in die stormwaterkanaal.
Betonblokke aan die kante van die kanaal het begin losbreek en na die middel van die kanaal verskuif, wat die vloei van die stormwater erg belemmer en water in die kanaal by tye baie hoog laat opstoot.
“Dit is nie die eerste keer wat dit gebeur nie. Die betonblokke het reeds in 2014 begin losbreek en sedertdien het ek verskeie kere ‘n beroep op die betrokke munisipale departemente gedoen om dringende instandhouding aan die kanaal te doen. Twee jaar later is die probleem steeds nie opgelos nie en die onkoste vir herstelwerk wat in 2014 minimaal sou wees, gaan vir die munisipaliteit – wat reeds finansieel sukkel – nou baie meer kos,” sê mev. Coertze, raadslid vir Emfuleni se Wyk 9.
Sy sê indien die water oor die kante stroom, wat ‘n groot moontlikheid is aangesien dit die afgelope week byna gebeur het, sal die huise rondom die kanaal groot skade ly.
“Die Emfuleni Munisipaliteit sal dan die verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar weens hul nalatigheid om die probleem vroegtydig aan te spreek. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat iemand groot skade gaan ly,” sê sy. Raadslid Coertze het die munisipale bestuurder versoek om binne sewe dae ‘n antwoord te gee oor wanneer herstelwerk aan die kanaal gaan begin.
Die gebreekte betonblokke in die kanaal belemmer die vloei van stormwater en laat die water ook tydens swaar neerslae in die erwe en omliggende paaie opdam.




