Mev. Elda Fourie, ma van Brandon (25) wat vroeër vanjaar in die sogenaamde “dwelmveld” in CW5 gesterf het, skryf:
Op 12 November stap ek en menige ander in die veld, ‘n vuil plek vol vrot plekke, rommel, murasies wat eens geboue was, sommige plekke stink so dat ek naar word, maar ek stap oor die klippe, plastieksakkies, glasstukke, want vandag soek ek jou daar, jou laaste plek onder ‘n koelteboom.
Daar sit almal kruise op vir jou, want die beweging was vir jou.
Ek smile en dog, as jy hier was, was ek in diep moeilikheid. Jy met jou sterk stem sou my vertel van die gevare, en die arme boom wat nou jou grafsteen vir my is. Ouma en Lana is ook daar, ek sien die hartseer en verslae kyke. Hier? Die plek? Brad? Nee. Pa en Soné is stil, net Danielle wat op haar knieë op die grond sit en grou, soek na jou en na antwoorde, sy huil saggies.
Ek vra in my gebed: Gee my net ‘n teken Brady, en ewe skielik raak ek rustig want tussen alles en almal, die vrot, besef ek ek ruik Nivea. Ek ruik jou, ek voel jou lang arms om my lyf, jou sagte baard in my nek.
“Madré”, sê jy, “hierdie vrot was my siel, die klippe en rommel was my pad wat ek moeilik moes kruis, die murasies is wie ek eens was, en al die mense hier is dié wat gered sal word.”
Ek huil saggies want ek sou liewer dat jy dit self moes doen… daar stap en die fight fight. Jy was nooit bang nie, maar met jou stry ek nie, jy is veilig en jy sal vir altyd wees. Ek sal jou weer daar gaan soek, met elke sukses wat ek behaal. Onder jou boom, die mooiste een in die hele veld.
(Brandon se ouers het op 12 November deelgeneem aan ‘n bewusmakingsdag waartydens kruise in die veld waar hy in Julie vanjaar gesterf het, opgesit is en plakkate is ook aangebring voor verskeie winkels in die CW5-omgewing waar Nigeriërs na bewering laegehalte dwelms aan kinders en jongmense verkoop. Vaalweekblad ondersoek die bewerings saam met die Polisie. – Redakteur).
//



