EntertainmentEventsNews

Die Hemel Weet – dié video raak harte aan

“Ek het nou seker al 10 keer na die video gekyk en elke keer huil ek van voor af van lekkerkry,” skryf ‘n leser. Hiermee verwoord sy seker menige leser se gevoel.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ‘n Video wat op 19 November by Sharky Town, ‘n bekende kuierplek in die Vaaldriehoek, geneem is, is besig om opslae op internet te maak. Die video begin met ‘n gestremde seuntjie wat Manie Jackson se groot treffer, Die Hemel Weet, heel oulik en nootvas sing.
Die volgende oomblik stap Manie self op die verhoog en begin saamsing. Die seuntjie het dit duidelik nie verwag nie. Die uitdrukking op sy gesiggie is kostelik. Hy gryp Manie om die nek en saam sing hulle dié trefferliedjie dan verder.
Binne 21 uur nadat die video op YouTube gelaai is, is dit reeds meer as 140 000 keer gekyk.
“Ek het nou seker al 10 keer daarna gekyk en elke keer huil ek van voor af van lekkerkry,” skryf ‘n leser. Hiermee verwoord sy seker menige leser se gevoel.
Marius de Vos, bekende omroeper van IFM 102.2, vertel hoe dit gebeur het dat dié goue oomblik op video vasgelê is: “Keagan Rossouw, ‘n gehoorgestremde seuntjie, sou die aand saam met ander sangers by Sharky Town optree. Toe ek en Ben (Manie se klankman) vooraf buite staan en gesels, kom ons op die idee van hoe nice dit sal wees as Manie vir Keagan kan kom groet, en dan sal ons hom probeer ompraat om terwyl Keagan Die Hemel Weet sing, uit die bloute te voorskyn te kom en saam met hom te begin sing… natuurlik sonder dat Keagan vooraf daarvan moet weet.
“Manie het ‘n hele paar shows en besige paar dae agter die rug gehad, maar ek vat tog die kans en bel hom. Hy was al in die kooi van moegheid, maar het dadelik ingestem om net daar klaar te maak en Sharky Town toe te kom. Die res is nou geskiedenis en die video wat die goue oomblik vasgevang het, se views skiet die hoogte in!”
Marius sê hy vertel die verhaal want Manie, wat in die Vaaldriehoek woon, is so ‘n nederige mens dat jy niks daarvan uit sy mond sal hoor nie.
Klein Keagan (8) is duidelik sy ouers, Steph en Chantel Rossouw van Rustenburg, se trots. Steph het hierdie week aan Vaalweekblad vertel dat Keagan en sy sussie, Kiara (12) met Fanconi Anemia gebore is. Dit is ‘n oorerflike toestand wat onder andere kan veroorsaak dat ‘n lyer se gehoorkanale heeltemal toe is en dus doofheid tot gevolg het, maar die gedeelte in die brein wat klank kan registreer, funksioneer wel. Danksy ‘n gehoorapparaatjie wat klank deur sy skedel na die koglea herlei, kan Keagan wel ‘bioniese klanke’ hoor. “Hy is verskriklik lief vir musiek en is baie nootvas,” sê sy pa.
Keagan, wat die afgelope tyd gereeld optree, is in graad 2 in ‘n privaatskool, die Rustenburg Christelike Akademie. Hy kry sangafrigting by Elzabi Beuk, wat hom tydens optredes bystaan omdat hy nie bas kan hoor nie en ook nie die musiek kan hoor terwyl hy self sing nie.
“Ek kan nie onthou of ek hom al ooit so opgewonde gesien het soos daai aand by Sharky Town nie. Hy
maak ons so bitter trots,” sê Steph.
Keagan het in September ‘n sangkompetisie van All-Time Radio gewen. Die prys sluit 12 liedjies met melodieë in wat vir hom geskryf en dan opgeneem sal word. Die CD sal na verwagting binne die volgende jaar op die rakke wees.

Foto’s: Keagan Rossouw kyk met ogies vol bewondering na sy held, Manie Jackson, nadat dié hom op die verhoog verras het en ‘n deel van die liedjie saam met hom gesing het. Foto-erkenning: Annette Williams, Sozicept Event & Entertainment SA

Manie en Keagan2 Manie & keagan3

Manie en Keagan - Annette Williams

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button