Die voorval het Saterdag, 17 Desember, gebeur toe Annari du Plessis saam met haar suster en haar seuntjie Morné by Panarottis in Vaal Mall gaan eet het. “Ons het mekaar so 12:00 daar gekry en Morné het by die speelarea gaan speel. Ons het naby die speelarea gaan sit sodat ek ‘n ogie oor hom kan hou,” sê Annari.
Na ‘n rukkie het sy hom nie meer gesien nie en gaan kyk waar hy is. Sy het gesien hy sit op die vloer en huil en hou sy nek vas. “Ek kon nie verstaan wat aangaan nie en die bestuurder wat op daardie oomblik daar was het ook nie geweet nie.”
Morné het toe vir sy ma vertel dat ‘n oom hom aan die nek gegryp het en op die vloer neergegooi het. Annari het die beeldmateriaal van die voorval in die hande gekry en haarself na Facebook-gewend om te probeer vasstel wie die man is.
Sy het intussen Morné geneem vir ‘n J88-verlsag en ‘n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak.
“Dit is werklik skokkend. Jy dink jou kind is veilig en dan gebeur sulke goed,” sê Annari.
Vaalweekblad sal meer hieroor berig sodra die ondersoek afgehandel is.
Klik op die skakel om die video te kyk: Man gryp seun aan keel by Panarottis Vaal Mall



