
Retha Fitchat
Die Vanderbijlparkse man wat gister (Vrydag 23 Desember) dood in sy swembad aangetref is, is geïdentifiseer as mnr. Hardy Rausch (78) van Louw Wepenerstraat, SE1. Volgens paramedici het hy vermoedelik reeds Donderdag 22 Desember gesterf maar is eers Vrydagggend in sy swembad aangetref.
’n Woordvoerder van die polisie wat op die toneel was, sê daar word vermoed dat mnr. Rausch op ’n stoel langs sy swembad gesit het toe hy moontlik ’n hartaanval gekry en in die water geval het.
Wyle mnr. Rausch se huishulp het Vrydagoggend haar kommer by een van die bure, mnr. Ben Peels, gaan lug omdat mnr. Rausch nie soos gewoonlik die deur vir haar oopgemaak het nie. Die bure het sy landlyn en selnommer geskakel maar daar was geen antwoord nie.
Bure oorkant die straat, Kevin en Janette Snailham, wat ‘n sleutel van mnr. Rausch se huis gehad het vir noodgevalle, het eers in die huis en tuin na mnr. Rausch gesoek voordat hulle sy liggaam in die swembad opgemerk het.
Elise Tempelhoff van Beeld berig dat wyle mnr. Rausch ‘n wewenaar was en die afgelope vyf jaar alleen gewoon het. Hy het glo geen naasbestaandes in Suid-Afrika gehad nie. Hy was glo fiks en het gereeld gedraf.
‘n Vriend van die oorledene, mnr. Siegfried Hannig, het gisteraand in ‘n Facebook-inskrywing na mnr. Rausch se dood verwys en gesê hy het ‘n dierbare vriend verloor. Hy het bygevoeg dat almal gedurende die Kerstyd moet dink aan diegene wat in dié tyd alleen en eensaam is.



