Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Moet liewer nie ‘n vals saak by die polisie open nie… dit kan jou in diep water laat beland!
Dit is wat ‘n inwoner uitgevind het nadat hy Donderdag 22-12-2016 valslik beweer het dat sy skootrekenaar gesteel is.
Volgens waarnemende stasiebevelvoerder, kolonel Cornelius van Schalkwyk, het die man aan die polisie beweer dat daar ‘n inbraak by sy sakeonderneming was, waartydens sy rekenaar gesteel is.
Die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Kgathatso Abenaar Malete, het egter vermoed dat daar ‘n slang in die gras was en het vinnig vasgestel dat die man sy rekenaar aan ‘n vriend gegee het om te gaan verkoop.
Die klaer het toe die verdagte in die saak geword en is weens meineed in hegtenis geneem.
“Meineed is ‘n baie ernstige oortreding. Buiten dat dit die misdaadstatistiek vir ons gebied opjaag, mors dit ook die polisie se tyd as hulle aandag aan vals klagte moet gee terwyl hulle liewer kon toespits op ware misdade. Hierdie is ‘n waarskuwing aan lede van die publiek wat daaraan dink om vals klagte by die Polisie te kom aflê: Jy gaan jouself vinnig agter tralies bevind as jy ‘n leuen onder eed vertel,” sê kol. Van Schalkwyk.



