Abigail is 2016/17 se Little Miss SA
Vaaldriehoekse nooientjie stap vanjaar met groot titel weg
Sharon Thlomelang
VEREENIGING. – Abigail (Abi) van Niekerk, ‘n 12-jarige skoonheid van die stad, het onlangs bewys dat indien jy aanhou en uithou, jy die vrugte sal pluk.
Op haar jong ouderdom spog sy reeds met ‘n rits titels agter haar naam, maar om hierdie een by te sit is voorwaar uitstekend.
Abi het aan die Little Miss SA 2016 /17 wat op 29 Oktober in Pretoria gehou is, deelgeneem en met die gesogte titel Little Miss SA 2016/17 weggestap in haar ouderdomsgroep (8-12 jaar).
Abi doen reeds modelwerk sedert sy vyf jaar oud was en hierdie was haar sewende jaar wat sy aan die kompetisie deelneem het wat deur Beyond 2000 Performing Arts aangebied word, waarvan dr. Ellen Roux die direkteur is.
Abigail is as “Miss Best Interview” aangewys sedert die ouderdom van 4–12 jaar. So tussen al die trane kan die blydskap op hierdie klein modelletjie se gesiggie gesien word. Haar ma Amanda sê harde werk, respek en nederigheid het haar bo almal laat uitstaan. Abi het baie geskenkies ontvang, asook ‘n betaalde reis na Los Angeles volgende jaar Junie/Julie, waartydens sy Suid-Afrika gaan verteenwoordig by die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste. Sy is ook ‘n baie skrander graad 6-leerling aan Laerskool Vryheidsmonument, waar sy ‘n uitblinker is in akademie, sport en kultuur. Sy het ‘n jaar vol harde werk wat voorlê waar sy baie liefdadigheidsfunksies gaan behartig en haar eerste projek was Bederf Kardoesie.
Dit het behels die volmaak van ‘n nommer 5 of nommer 6 skoendoos vol lekkers, koekies en koeldrank wat mooi versier is. Dit is as Kersgeskenke aan kinders in kinderhuise uitgedeel.
Abigail se lewensmotto is: “Believe in your dreams because dreams do come true”.
“Dankie mamma en pappa vir al die opofferings, sonder julle sou ek dit nie kon maak nie,” sê sy.



