See eis oud-rubriekskrywer se seun
Vakansieganger verdrink toe hy dogter wou red
Retha Fitchat
Slegte nuus in die Feesdae is dat Tjaart van der Walt (41), oudste seun van Vaalweekblad se voormalige godsdiensrubriekskrywer, ds. Tienie van der Walt, Donderdag by die Gleniquastrand in Glentana, Mosselbaai, verdrink het.
Tjaart wou Donderdag (29 Desember) sy 11-jarige dogter, Elmané, wat in ‘n seestroom meegesleur is, probeer red toe hy self in die moeilikheid geraak het.
Elmané kon daarin slaag om uit te kom, maar Tjaart is dieper die see ingetrek en het in die golwe verdwyn. Hy was glo sowat 10 minute onder die water voordat hy deur helpers gevind en strand toe gebring is.
Volgens Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, het lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) dadelik met noodhulp op Tjaart begin en volgehou totdat paramedici opgedaag het.
“Ons paramedici het hulle probeer bystaan en gevorderde lewensreddingstegnieke probeer uitvoer, maar hy is ongelukkig ná meer as ’n uur se vergeefse pogings oorlede,” het Vermaak gesê. ER24 se paramedici het hom op die toneel dood verklaar.
Tjaart, wat ‘n sake-analis in Krugersdorp was, was saam met sy vrou Elma, twee dogters en vriende op vakansie in Mosselbaai. Sy gesin word tans bygestaan deur familielede wat uit Gauteng na George gevlieg het. Die presiese oorsaak van sy dood sal deur ‘n lykskouing bepaal word. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
Een van Tjaart se goeie vriende, Johan Labuschagne, het dié roerende boodskap op Facebook geplaas:
“Rus in vrede my vriend! Soos ‘n ware ridder van weleer het jy die monster-see aangedurf om jou prinsessie se lewe te red, ten koste van jou eie lewe. Ek is jammer ons braai by die see gaan nie gebeur nie, so gooi maar ‘n vleisie op die vuur saam met ons Hemelse Vader terwyl julle die sononder skilder. Ons sal mooi na Elma vir jou kyk. Ons gaan jou mis, ouheer Tjaart Van der Walt.”
* Tjaart se pa, ds. Tienie van der Walt van Vanderbijlpark, is ‘n oud-predikant en voormalige dosent aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit. Hy het jare lank Vaalweekblad se godsdiensrubriek behartig en is ook ‘n uitmuntende fotograaf wie se foto’s gereeld in Vaalweekblad en ander publikasies gepubliseer is.
Vaalweekblad-personeel se innige meegevoel aan ds. Tienie en sy vrou, sowel as aan die res van die Van der Walt-gesin met hul geweldige verlies.



