Die uitvoer van donkievelle na China is op almal se lippe, maar wat hartverskeurend is, is die manier waarop die diere doodgemaak word voor hulle afgeslag word. ‘n Donkie word vir sowat R300 by ‘n stamhoof gekoop en die dier se vel bring vir jou R7 000 stuk in die sak.
Daar is verlede week deur die polisie en diereregte-organisasies op 3 500 donkievelle beslag gelê in Benoni. Die bure het begin kla oor die walglike reuk en die skokontdekking is gemaak toe ondersoek ingestel is.
Luidens ‘n persverklaring van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het hulle ook verlede week die borgaansoek van twee mans wat donkies in die Noord-Kaap grusaam doodgemaak het om hulle af te slag, teengestaan. Beeldmateriaal wys waar sommige van die diere nog lewe as hulle afgeslag word.
Die donkievelle word glo gekook om die gelatien en ejiao daarvan te bekom wat glo teenverouderingseienskappe het en ook kan help met slaaploosheid en duiseligheid. Hulle glo ook dat dit bloeding kan stop, jou bloed versterk en help met bloedsirkulasie. Daar word berig dat China jaarliks sowat vier miljoen donkies benodig om in die aanvraag na ejiao te voorsien. China vervaardig jaarliks sowat 5 000 ton ejiao. Die ejiao word glo in ‘n harde gel verkoop wat in water of alkohol opgelos kan word.
Daar is ook sprake van ‘n ooreenkoms tussen China en Noordwes vir ‘n boerderyprogram vir donkies en die oprigting van ‘n slagpale. Daar heers egter kommer oor donkies se toekoms in Suid-Afrika.
Lees gerus meer hieroor op Maroela Media se webblad deur op die skakel te klik: Donkies
Besoek gerus ook die Karoo Donkey Sanctuary se Facebook-blad indien jy ‘n veskil wil maak. Hulle het vandeesweek 130 donkies en 25 perde gered by ‘n veiling in Hartswater.
Hier is ‘n skermgreep van die Karoo Donkey Sanctuary se Facebook-inskrywing na die veiling:





