Eerste skof van Braam se tog agter die rug
Eerste skof van Braam se tog agter die rug
VEREENIGING. – ‘n Plaaslike fietsryer het gister vertrek op sy derde tog per fiets na Kaapstad, met die hoofdoel om geld in te samel om die sowat 70 hulpbehoewende gesinne in Leeuwhof se las te verlig.
Braam Smith (54) het Sondag 12 Februarie Braam vanaf die gemeenskapsentrum by Leeuhof in Vereeniging vertrek in sy eerste skof van die 1956km tog alleen op ‘n fiets.
Lesers kan Braam se tog meemaak op vaalweekblad.com en op Vaalweekblad Facebook. Sondag se rit was vanaf Vereeniging tot in Parys waar hy en ‘n klomp vriende vir oulaas middagete geniet het waarna hy vertrek het na Viljoenskroon waar hy oornag het. Braam se vriend Evert het hom op die eerste deel van die tog vergesel tot in Viljoenskroon. Daarna ry Braam sonder enige bystand of rugsteun voertuig deur die Noord-Kaap tot in Kaapstad waarna hy aan die einde van die rit ook aan die Kaapstad-fietstoer (voorheen bekend as die Argus) deelneem.
Vandag 13 Februarie is hy tussen Viljoenskroon en Klerkdorp, ‘n afstand van 60km. Die plan is om teen 20 Februarie in Kimberley te wees, 28 Februarie in Calvinia en 3 Maart in Clanwilliam. As alles volgens plan verloop behoort hy teen 10 Maart in Kaapstad te wees. Dit sal ook sy tweede jaar wees dat hy op 16 Februarie, op sy verjaardag op sy fiets is met die toer. Hy staan 2m hoog in sy skoene staan en 138kg weeg.
Braam het in 2015 R80 000 ingesamel wat gebruik is om onder meer brille en pille aan te koop en om die behoeftiges te help om bv. stukkende motors en yskaste reg te maak. “Charity begins at home, Almal wil altyd ver gaan om ander mense te help, maar sien nie die nood en behoeftes in hul eie gemeenskap raak nie,” sê Braam. Dit was op 17 Januarie 2012 wat die Here vir Braam tydens ’n ATKV-vergadering gevra wat
het: “Braam, wat jaag jy?” Dit sou Braam se lewe verander en deesdae is dit gemeenskapswerk en die klank van fietsspeke wat sing wat hom na aan die hart lê. “As ek in die oggend op die fiets klim, dan begin ek met die Here praat. Daar is nie manier wat ek dit alleen kan doen nie,” sê Braam.Die 2017 toer word weer aangepak op geloof. Braam self weet nie wat die doel gaan wees nie, maar vertrou dat die Here dit wel vir hom sal wys soos wat die toer aangaan. Die meeste van die mense in Leeuhof kry slegs staatspensioen, wat ‘n skamele R1 350
per maand is. “Ons almal weet dat mens nie daarvan kan oorleef nie,” sê hy. Braam ondersteun dié gemeenskap deur te probeer om elke dag vir hulle kos op die tafel te sit.
Die ATKV-hoofkantoor het ook aan dié projek erkenning gegee. Bydraes kan in die vorm van donasies wees. Borgskappe vir elke kilometer is ook baie welkom. Die totale afstand wat afgelê word is 1 956 kilometer. Bankbesonderhede: ATKV Vaalplakkers, Absa Bank, tjekrekening, 4080990182. Indien jy meer oor Braam se gemeenskapswerk wil uitvind of dit finansieel wil ondersteun, kontak hom by 083 997 7330. * Volg sy fietstoer en die volledige toerprogram vanaf 12 Februarie op vaalweekblad.com vir foto’s en ‘n verslag oor die toer.
FOTOS: JANNIE DU PLESSIS








