Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ‘n Jong man van die dorp is Vrydagaand, 27 Januarie, so erg by ‘n plaaslike kuierplek vir jongmense aangerand dat sy pa hom aanvanklik nie eens kon herken nie.
Ruan van Emmenis was die betrokke aand ‘n besoeker by Sky Lounge, ‘n gewilde uithangplek vir jongmense. Dit is nie ver van Golden Goose en Stonehaven af nie, wat albei ook gewilde kuierplekke is maar waar daar streng sekuriteit en beveiliging aan besoekers gebied word.
Ruan was die aand buite by sy kar in Sky Lounge se parkeerterrein toe hy glo skielik deur twee jongmans, vermoedelik ook besoekers, oorrompel is. Hy het op die grond neergeval en is so erg teen sy kop en gesig geskop dat hy sy bewussyn verloor het. Toe hy ‘n ruk later bykom, het hy sy kar net daar gelos en huis toe gevlug om van sy aanvallers af weg te kom.
“Ruan se hele gesig was so erg opgeswel dat ek my eie kind nie herken het nie,” sê sy pa, mnr. Johann van Emmenis.
“Met die skoppe wat op hom neergereën het, is sy oogkas gebreek, wat meebring dat sy oog gaan sak, wat sy visie permanent kan beïnvloed. Al uitweg is ‘n operasie om sy oogkas weer op te bou.”
Mnr. Van Emmenis sê hy het geen twyfel dat Sky Lounge nie dié soort gebeure goedkeur nie, maar dit lyk vir hom of daar bose elemente is wat daarop uit is om besoekers seer te maak.
Volgens die polisie is ‘n ander man vroeër in Januarie ook erg by dieselfde plek aangerand.
Gedurende Desember is nóg ‘n jongman, Kyle Hamilton, glo ook so erg aangerand dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.
“Ek voel dit is hoog tyd dat Sky Lounge besoekers se veiligheid bo enigiets anders moet stel,
want netnou sterf iemand dalk as niks omtrent hierdie affêre gedoen word nie,” sê mnr. Van Emmenis.
‘n Klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer word deur die polisie ondersoek. Die twee verdagtes se name is aan Vaalweekblad bekend, maar dit word weerhou totdat hulle in die hof verskyn.
* Vaalweekblad het telefonies met Sky Lounge se bestuurder probeer kontak maak maar kon teen saktyd nog nie daarin slaag om kommentaar oor die gebeure te kry nie.



