KYK: Só lyk die paartjie wat IN die Vaaldam getrou het
VEREENIGING. - ‘n Mens hoor dikwels mense sê as jy moet wag vir die regte tyd, gaan dit nooit gebeur nie, want dit is selde dat die tyd werklik reg is.
JJ en Linky Veldman kan hulself met dié woorde vereenselwig. Hulle is reeds ses jaar saam, maar die tyd vir trou was nog nooit reg nie. Linky het die waarde van haar en JJ se verhouding weer eens besef toe JJ op 16 November verlede jaar in ‘n ernstige ongeluk betrokke was toe ‘n boom op hom geval het terwyl hy met sy bromponie gery het.
JJ en Linky Veldman beloof ewige trou aan mekaar.
Die voorval het op die hoek van Ringweg en Limpopostraat plaasgevind. Hy het onder meer sy femur op drie plekke gebreek en sy linker enkel, heup en kniekop is ook erg beseer. Hy was vir drie dae in die intensiewe-sorgeenheid van Sebokeng Hospitaal en daarna moes hy geduldig wag om teater toe te gaan om die frakture te herstel. Linky het dit as ‘n wonderwerk beskou dat JJ oorleef het en sy het besef tyd staan vir niemand stil nie. Sy wou nie een dag verder leef sonder om mev. Veldman te wees nie en het JJ die groot ja-woord sommer in die hospitaal gevra.
JJ in die hospitaal na die ongeluk.
Die paartjie het egter nie die tradisionele wit troue langs die see of tussen berge en dale gevolg nie. Hulle het op 28 Januarie in die Vaaldam afgehaak en hul kleurskema was swart, rooi en silwer, Linky se gunsteling kleure.
Sy en haar pa, Johan Olivier, het nagte om gesit om haar unieke troue in twee maande se tyd haarfyn te beplan en die versierings te maak. Hy het self op die laaste nippertjie sy voertuig verkoop om sy dogter se troue te kon betaal. “My pa is ‘n ster duisend en ek kon nie vir ‘n beter pa gevra het nie,” sê Linky.
Linky en haar pa, Johan Olivier.
Linky sê almal praat altyd van ‘n troue langs die see of tussen die berge en sy het gedink waarom nie ‘n troue langs die dam nie, of nog beter sommer in die dam. “Die dam is een van my en JJ se gunsteling plekke. Ek was nooit ‘n groot visvang-mens nie, maar ek moes vinnig leer. Ek het ‘n groot liefde vir die dam en hengel-ontwikkel soos wat my en JJ se verhouding gegroei het.”
JJ en Linky se verhouding was egter nie altyd maanskyn en rose nie. Hulle het mekaar deur vriende ontmoet en die volgende dag het Linky by hom ingetrek. “Dit was liefde met die eerste oogopslag.” JJ het haar na drie maande gevra om te trou, maar hul verhouding het ‘n groot knou gekry nadat sy twee miskrame gehad het. “Toe ons weer sien, is ek drie maande swanger met ons dogtertjie, Jay-Lee, en daarna het ons ook ‘n seuntjie, Tyron, ryker geword.” Toe ek swanger was met ons seuntjie, was ons verhouding ook onder baie druk, maar ons het bo uitgekom. Na JJ se ongeluk het ek besef tyd staan nie stil nie en ek het hom gevra om te trou en vandag is ons mnr. en mev. Veldman. Die hoogtepunt van haar en JJ se spesiale dag was die water oor hul voete, die vars lug, die uitsig van die dam en toe die dominee sê: “Julle is nou een.”
JJ en Linky Veldman.
“In daardie stadium het ek geweet ek en JJ is presies op die plek waar ons hoort.” Die Beach Buggy wat hulle as troukar gebruik het, het op pad van die dam na die onthaal by Randwater Zuikerbosch kort-kort oorverhit en hulle moes ‘n paar keer langs die pad stop. “Dit was eintlik perfek, want waar ons gestop het, het ek en JJ sommer in die pad gedans. Ons was voor die tyd bekommerd dat dit dalk sou reën, maar ek het my vertroue in God geplaas en ons het ‘n pragtige sonskyndag gehad. Ons kon nie vir ‘n beter dag gevra het nie. Alles was perfek.
“Die dam was ‘n groot hoogtepunt en ook die feit dat ons familie en vriende die dag saam met ons geniet het. JJ se pa het al die pad van Thabazimbi af gekom en dit het vir ons baie beteken,” sê Linky.
Gelukkig getroud
Die egpaar bedank graag Linky se pa Johan, wat gehelp het om hulle dag moontlik te maak, asook, Ina, One Steel Engineering, Cell C by President Hyper en Mary en Thomas. “Sonder hierdie mense en ons familie en vriende sou ons dag nie so perfek gewees het nie. Ons sal elkeen van julle ewig dankbaar wees.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!