Verdagte in Jossie moord verskyn weer Vrydag
VANDERBIJLPARK. - Die verdagte wat Sondagaand inhegtenis geneem is vir die moord op ouma Jossie Gilson(90), verskyn weer Vrydag 3 Maart in die hof op Vanderbijlpark.

VANDERBIJLPARK. – Die verdagte wat Sondagaand inhegtenis geneem is vir die moord op ouma Jossie Gilson(90), verskyn weer Vrydag 3 Maart in die hof op Vanderbijlpark.
Die verdagte, Dirk Crafford (45), het Woensdag in die hof aansoek gedoen vir staats regshulp maar kon as gevolg van sy salaris slegs aansoek doen sodat sy finansieële posisie deur die regshulpraad goedgekeur kan word. Vrydag sal Crafford hoor voor landdros Kelaotse of sy appèl geslaag het en dan aansoek doen vir borgtog. Crafford bly in aanhouding.
Rachel Jacoba (Jossie) Gilson (90), is omstreeks 18:30 deur haar dogter, Marie Fourie en kleinseun Awie Fourie in haar kamer op die eerste verdieping van die hoofwoonstelblok van die Pioneer House in CW5, gevind. Sy het veelvuldige steekwonde in haar sy en aan die res van haar lyf gehad. Sy is op die vloer langs haar bed gevind. Volgens Marie het sy by haar ma gaan inloer. Toe sy die deur oopsluit, het sy haar gesien lê. Sy het haar vriendin, Anita Celliers, geroep wat langs haar woon en saam het hulle ouma Jossie in ‘n plas bloed gevind. Aanvanklik het Marie gedink dat haar ma geval en seergekry het, aangesien daar baie bloed was. Nadat ER24 paramediese personeel haar egter op die toneel dood verklaar het, het hulle veelvuldige steekwonde aan haar lyf gevind. Die polisie is gekontak, wat sowat ‘n halfuur later eers by die toneel opgedaag het. Crafford, ‘n inwoner in die A-blok net agter die hoofgebou, is dieselfde aand deur die polisie in sy kamer gearresteer waar hy aan die slaap was. Volgens inligting het Crafford sensitiewe inligting oor die moord aan ander inwoners vertel wat tot sy inhegtenisname gelei het.
Ouma Jossie laat haar drie kinders Boetie, Marie en Anette, 10 kleinkinders en agt agterkleinkinders agter. Haar jongste seun Chris, is reeds oorlede. Sy word op Saterdag 4 Maart om 14:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk op die Nanescol-kleinhoewes begrawe.






