
Retha Fitchat
‘n 64-jarige vrou is gisteraand kritiek beseer tydens ‘n aanval op haar plaas langs die Kalbasfonteinpad tussen die Vaaldriehoek en Carletonville.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici wat gisteraand na die toneel uitgeroep is, het met hul aankoms reeds verskeie verteenwoordigers van die betrokke plaaslike owerhede daar aangetref, sowel as GPF-lede en nog boere van omliggende plase. Dit is onbekend hoe hulle van die aanval kennis geneem het.
Die vrou het met ‘n ernstige kopbesering in ‘n plas bloed in die huis gelê. Sy het ook baie ernstige beserings aan haar voorarms opgedoen. Daar is ook veelvuldige steekwonde aan haar voete. Paramedici het intensiewe lewensondersteunende behandeling toegepas voordat sy vir verdere dringende behandeling na Vereeniging Mediclinic vervoer is.
Haar drie honde is dood op die toneel aangetref. Hulle is vermoedelik geskiet.
Die polisie volg alle leidrade op in ‘n poging om die skuldiges aan te keer. Die GPF en boere van die omgewing is op hoë gereedheid en sal alle inligting oor verdagte mense of situasies aan die polisie deurgee.



