Só gaan dit met die Vaal se verkromde seuntjie
VEREENIGING. - Hulle sê dinamiet kom in klein pakkies en in klein Marko Greyling (6) se geval is dit presies so.
Vaalweekblad het vroeër berig oor Marko wat met skoliose gebore is. Skoliose is basies die verkromming van die ruggraat en Marko s’n het ‘n kritieke stadium bereik en hy moes noodgedwonge ‘n nege uur lange operasie ondergaan om ry ruggraat reguit te probeer maak.
Hy het ‘n soortgelyke operasie ondergaan toe hy maar drie jaar oud was, maar mettertyd het die skroewe en plate wat hulle in sy ruggie gesit het, losgekom en moes dit ongelukkig tydens ‘n noodoperasie verwyder word.
“Die dokters het destyds vir ons gesê as Marko van balans af begin raak en verswak, sal hy weer geopereer moet word. Hy was geskeduleer om op 29 November 2016 die groot operasie te ondergaan, maar hy kon eers in Februarie gaan, want die professor wat van Amerika gekom het om die operasie te doen, kon dit nie maak nie,” sê Nicolene, Marko se ma.

Marko is op 30 Januarie in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg opgeneem en op 3 Februarie is hy teater toe. Marko moet nou na die operasie ook weer leer loop na hy in November 2016 geheel en al opgehou het om te loop. “Die senuwees het vasgedruk en veroorsaak dat die spiere in sy linkerbeentjie in spasma gaan. Die wonderlikste van alles is dat hy nie moed opgegee het nie. Daar was dae wat hy nie sy spontane self was nie, maar hy het uitgehou en aangehou.”
Marko was drie dae in die intensiewe-sorgeenheid en daarna nog 14 dae in die hospitaal voor hy op 20 Februarie ontslaan is. “Hulle het die boonste en onderste werwels van sy ruggraat gelos en die in die middel herbou. Hy het ook nuwe skroewe en plate en ons glo sy ruggie gaan reguit bly,” sê Nicolene.
Die boggeltjie op sy rug is ook verwyder.
Marko kry ook een keer ‘n week fisioterapie en sy ma doen vier keer ‘n dag verskeie oefeninge met hom om hom sterker te maak sodat hy normaal kan funksioneer.
“Hy begin al self opstaan en ons kan sien die wilskrag is daar. Ons glo en vertrou hy gaan een van die dae weer loop.”
Groot dank gaan aan Lizet Smith van Liz Verhoef Physiotherapy, Nagel Orthopaedic, Caring Daizies van Pretoria, Canco Buniness Systems en ‘n beskermende engel van Vanderbijlpark.




