News

Jou laaste kans om te stem vir Danelle

MEYERTON. - Verbeel jouself in ‘n pragtige aandrok wat jou soos ‘n prinses uit ‘n feëverhaal laat voel, hoë hakskoene, elke haar op sy plek en grimering so perfek gedoen dat selfs die kleinste ongewenste merkie onsigbaar is... en dan ‘n skare wat jou toejuig as jou naam uitgeroep word, terwyl jy jou beste voetjie op die verhoog voor sit - dit is mos waaroor skoonheidskompetisies gaan?

Maar vir Danelle Dreyer (32) van Meyerton gaan dit oor veel meer as haar fisiese voorkoms, ‘n kroon of die titel van Mev. Suid-Afrika 2017.

“Ek is baie opgewonde om een van die finaliste te wees. Hoewel ek baie geseënd is met ‘n wonderlike man Clinton, drie pragtige seuntjies en my eie besigheid, KR Health and Safety, is my daaglikse roetine dieselfde en dit voel asof ek stagneer. Ek wou nog altyd vir Mev. Suid-Afrika inskryf en ek is gereed vir die uitdaging,” sê Danelle.
Mev. Suid-Afrika gaan nie net oor model wees nie, maar meer om as vroue mekaar aan te moedig. As ‘n vrou moet ons in onsself glo, en onsself wil verbeter en natuurlik selfvertroue hê. Daar is mooi in elkeen van ons. Ek sê altyd as jou drome jou nie bang maak nie, dan is jou droom nie groot genoeg nie.
Danelle sê sy wou nog altyd liefdadigheidswerk gedoen het, maar het nooit geweet waar om te begin nie. Gelukkig is die eerste groot klip nou uit die pad en glo sy dat sy ander se lewe kan verander.
Wanneer sy nie besig is met werk of haar takies as mamma en vrou nie, maak sy seker sy oefen elke dag en probeer om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf. “Ek is mal oor sjokolade en sal elke dag een eet as ek kan, maar ek probeer om gesond te leef en natuurlik om nie na 18:00 in die aand te eet nie. Danelle klok elke oggend 05:00 in by K-fit Midvaal van Tinus en Eleanor Strydom vir ‘n oefensessie. “Ek oefen nou bietjie langer as ‘n jaar by K-fit Midvaal en van dag een tot nou het my lewe werklik verander. Die oefeninge hou my nie net fiks nie, maar leer my ook uithouvermoë.
Die fondse wat ingesamel word tydens die Mev. Suid-Afrika se gala-aand op 28 April by Emperors Palace, word aan die Kanker- vereniging van Suid-Afrika (Kansa) geskenk.
Verlede jaar het die nie-winsgewende organisasie ‘n allemintige skenking van R1, 1 miljoen ontvang.
Tydens die geleentheid sal die top 25 finaliste ook aangewys word. “Ons kry elkeen ‘n onderhoud van vyf minute saam met die beoordelaars, wat onder meer bepaal of jy onder die top 25 finaliste is.
Danelle sê sy wil natuurlik die kroon dra, maar haar einddoel met die uitdaging is om ander te help. Danelle bedank graag Rozanne Foulds van Erg Bederf, wat al haar skoonheidsbehandelings doen. Sy sal ook tydens die geleentheid ‘n ambassadeur vir Just Water Vaal en KR Health and Safety wees.
Volg Danelle se Mev. Suid-Afrika reis deur haar Facebook-blad, Danelle Dreyer Mrs SA Finalist 2017 te like. Volg haar ook op Instagram by danelle.dreyer, Twitter by @danelle_dreyer
* Stem vir Danelle deur Danelle Dreyer na 35959 te SMS.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button