Man oorleef gewapende roof na hy drie keer geskiet is
VEREENIGING. - ‘n Man van die stad wat tydens ‘n gewapende rooftog drie keer in sy onderlyf geskiet is, het dit wonderbaarlik oorleef.
Mnr. Albert van der Merwe het Louis Trichardt vroeër die maand besoek en in die Lalapanzi Hotel tuisgegaan terwyl hy daar was. Hy is in diens van een van die kontrakteursmaatskappye wat werk doen aan die Matoks-verleggings.
Albert het aan Zoutnet vertel hy is omstreeks 04:00 deur vyf gewapende mans in sy bed oorval. Hy het met sy rug na die deur gelê en sy foon hoor lui.
Dit het gevolg met ‘n harde slag, waarna hy gevoel het iemand druk iets teen sy rug. Toe hy kyk, het hy die persoon tussen die bed en die deur met ‘n vuurwapen sien staan en nog twee skote is afgevuur.
Een van die rowers het hom deur die gesig geslaan, terwyl die ander een wou weet waar sy geld is.
Hy het slegs R900 by hom gehad en hy het vir die rowers gesê die geld is in sy rekenaarsak. Hulle wou ook weet waar sy skootrekenaar is. Hulle het hom beveel om 20 minute te wag voor hy hulp ontbied en het met sy skootrekenaar, selfoon en kontant op die vlug geslaan.
Volgens mnr. Van der Merwe weet hy nie hoeveel tyd verbygegaan het nie, maar toe hy seker was die rowers is weg, het hy die lakens van hom afgegooi om hulp te gaan soek. Toe hy opstaan het hy egter neergeval en toe eers besef hy is geskiet. Die bed en sy onderlyf was vol bloed.
Albert het tot by sy kollegas se kamer gekruip, waarna hy na die Zoutpansberg Privaat Hospitaal vir behandeling geneem is. Hy moes 19 steke kry om die wonde te heg. Hy is ontslaan en huis toe gestuur om te herstel.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.



