Meer as R10 biljoen se bedrog en korrupsie oopgevlek in JHB
Herman Mashaba, burgemeester van die stad Johannesburg, het in die laaste nege maande wat hy dié amp beklee R10 biljoen se verlore of wanbesteding blootgelê.

Mashaba het ‘n streng benadering tot korrupsie en bedrog en het in sy eerste stadsrede gesê die interne ondersoekeenhede wat in November 2016 ingestel is, het vrugte afgewerp.
Hy het verder gesê korrupte amptenare steel by die armes en dit moet end kry.
Die eenheid wat die ondersoek hanteer, met genl. Shadrack Sibiya as die hoof van die span, is daar tot dusver R2 biljoen se bedrog en korrupsie blootgelê en verhoed in verskeie afdelings en instellings.
30 Amptenare is in hegtenis geneem en 91 geskors, terwyl drie senior amptenare bedank het.
Volgens Mashaba is die bedrog wat oopgevlek is net die oortjies van die seekoei. Daar word op die oomblik 300 sake ondersoek en die totale bedrag wat verlore of misbruik is, beloop meer as R10 biljoen.
Mashaba meen die geld moes vir dienslewering aan gemeenskappe oral in Johannesburg gebruik geword het.
Hy sê hy sal voortgaan om wandade oop te vlek en verseker diegene wat daarby betrokke is, word geskors, vervolg en dat die geld verhaal sal word.



